Gedagte vir die dag: Wat is régtig belangrik?

Boekevat_Tuin_Foto_Juanita_Geyer

Foto: Juanita Geyer

Julle is deur Christus bemoedig en deur sy liefde getroos! Julle het die gemeenskap beleef wat die Gees bewerk! Julle weet wat omgee en meelewing beteken! (Filippense 2:1)

Ons raak maklik verstrengel in doen-dinge. In kry-dinge. In werk-dinge. Ja, ons weet ons het verantwoordelikhede, moet doelgerig wees en het daagliks take wat ons veronderstel is om te vervul. Dis immers deel van menswees, van die uit leef van ons talente, van wat die Vader van ons vra. Maar dit is jammer dat ons gedagtes en lewens so maklik net met daardie dinge in beslag geneem word. En dan … word ons leeg. Ons word leeg aan ons verhoudinge: met onsself, ander en ons Vader. Ons word leeg aan die dinge wat regtig betekenis aan ons lewens gee. Ons word sielsarm.

Doen elke dag jou plig, maar onthou wat belangrik is. Onthou dat mense altyd belangriker is as dinge; dat jou menswees meer gewig dra as jou wat-ek-doen-en-het-wees. Dat jou Vader jou liefhet, net soos jy is. Omdat Hy jou liefhet wanneer jy gestroop is. Wanneer jy net jy is.

Mense vergeet vinnig wat jy bereik het. Hulle vergeet nooit hoe jy hulle laat voel het nie. Jy vergeet maklik wat jy gedóén het. Jy onthou altyd wat met jou hárt gebeur het.

Vader van harte, mag ek nooit dinge belangriker as mense ag nie.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.