Gedagte vir die dag: Wat is u Naam?

berge-karoo-francois-bezuidenhout-stiltetyd.jpg

Foto: Francois Bezuidenhout

Toe sê God vir Moses: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle gestuur. ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur’” (Eksodus 3:14, 15).    

Moses het allerlei verskonings gehad. Die Israeliete ken hom nie meer nie. Hy praat swaar. Hy hakkel, sy tong sukkel! Sy slimste argument was: “Here, ek ken nie u Naam nie! Wie gaan ek sê, het my gestuur?” Op ’n slim manier probeer hy loskom. In die antieke wêreld het jy nie maklik jou naam aan ’n vreemdeling gegee nie, want as iemand jou naam ken, het hy ’n houvas op jou. Hy kan jou naam misbruik, hy kan jou vloek. Die gode, veral, sou nooit hul ware name aan almal bekendgemaak het nie. Niemand mag hulle besit of manipuleer nie! Slegs die ingewydes is met die god se naam vertrou.

Moses daag as’t ware die Here uit. U sal seker nie u heilige Naam sommerso weggee nie! Maar Moses het hom misgis. Die Here God gee nie om om sy Naam weg te gee, om Homself bloot te stel nie. Eendag sou God nog verder gaan, sou Hy self as ’n mens gebore word. Hy sou nie net sy Naam nie, maar sy lewe vir ons gee!

God het sy heilige Naam bekendgemaak: “Ek is.” En toe dit vir Moses te hoog is om te begryp, voeg die Here ’n Naam by wat Moses en sy mense sou kon verstaan: “Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.” Met die twee name op sy lippe kon Moses Farao konfronteer, kon hy sy volk  uitlei.

Die groot “Ek is”, is ook saam met ons op pad. Hy is God wat mens geword het, die Een wat ons lewe met ons deel, wat vandag saamstap.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

FM ·

Hierdie begrip, dat ons ewige Here nooit verander nie bly genade onbeskryflik

EK IS

God van ewigheid tot ewigheid

Estelle ·

Piet Mei ring se dagstukkies is so ‘n inspirasie en seën baie dankie. Seënwense

Yvonne ·

Dankie Here U die Koning oor konings die Almagtige ken my naam….vir my mens verstand n misterie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.