Gedagte vir die dag: Wat maak Christenskap uniek?

arms_uitgestrek_berg_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. (Efesiërs 1:5-6)

Ek is baie versigtig om mense te oordeel, want ek besef alte goed dat ek ook ’n sondaar is wat sonder God verlore sou wees.

Het jy geweet dít wat die Christelike geloof uniek van enige ander geloof maak, is die feit dat gelowiges hulle verlossing uit genade en nie verdienste verkry nie! Reg deur die Woord van God word daar uitdruklik beklemtoon dat ons verlossing net van God en beslis nie van onsself afhang nie. Ons word nie gered omdat ons dit verdien nie, maar omdat God genadig is en Hy ons wil red. Jesus sê in Johannes 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar ek het julle uitgekies …” God gee sy genade uit liefde en vrywillig aan dié wat Hy verlos. Ons kan dit nie verdien nie, al span ons ons hoe in. God gee dit net omdat Hy wil.

Dit is nie iets wat ons gedoen het wat God laat besluit om ons te red nie. Daarom sal ons nooit onsself op die skouer kan klop oor ons verlossing nie. Dit is alles onuitspreeklike genade. Hy skenk dit vir ons, wat beteken: Hy gee dit verniet weg.

Watter voorreg om te weet God het ons sy kinders gemaak en dat Hy na ons deur die kruis kyk. Deur Jesus se toedoen het ons deel geword van God se gesin en is saam met Christus erfgename van God. ’n Aangenome kind het volgens die wette van die Romeine dieselfde regte en voorregte as ’n biologiese kind gehad. Paulus gebruik hierdie beeld dus om te beklemtoon hoe intiem ons verhouding met God is.
Frederick Beuchner het gesê: “Dit is vir jou wat ek die heelal geskep het, sê God. Ek het jou lief. Daar is net een vangplek. Soos met enige ander geskenk, kan hierdie genadegeskenk slegs joune wees as jy jou hand uitsteek om dit te ontvang.”

Miskien is hierdie vermoë om dit te ontvang ook ’n geskenk van God.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johnnie ·

Ons ontvang God se genade eers wanneer ons Hom aangeneem het as ons verlosser en saligmaker die dag wanneer jy erken jy is n verlore sondaar oppad hel toe en jy op jou kniee in bittere berou na die Here toe vlug dan eers word jy deur God se genade gered en kan jy se jy is n kind van God en is jou naam geskryf in die boek van die lewe, hulle noem die wedergeboorte wanneer die Heilige Gees jou wederbaar.

Hannes ·

God het bestaan voor Sy skepping en buite Sy skepping. Dit is ook buite die begrip van die mens. God is onveranderlik. Hy gee en neem nie weg van Sy liefde en genade – dit is gedane sake, ‘n gegewe. Vir ons as mense behels dit ‘n groei proses om meer en meer deel te word van God en Sy gawes aan ons. Dit wat ons aan God verbind is reeds in ons. Daar is goed in ons lewe wat ons direkte verbintenis aan God belemmer en dit is wat ons deur geloof moet regmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.