Wat ʼn nagmerrie!

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

ʼn Vriend van my vertel my hoe hy in ʼn erediens was waar ʼn pastoor spog oor hoe die Here hom seën. Hy versamel wapens en het agtergekom hoe meer gewere hy weggee, hoe meer kry hy terug – elke keer beter en duurder gewere. (Ek het gewonder waar dink hy dit gaan eindig, as dinge só aanhou gaan hy eendag ʼn tank besit? Het hy al masjiengewere?). Die pastoor het ook onlangs sy Rolex-horlosie ter waarde van R83 000 gesaai – vir ʼn Amerikaanse televisieprediker – en ʼn week later het die Here hulle bediening beloon met ʼn enorme klomp geld (uit Amerika!).

My vriend was nog besig om te vertel toe ek onthou van ʼn droom wat ʼn ou gehad het: ʼn nagmerrie oor Jesus.

Hy droom hy sit op die grond voor ʼn reuse-televisieskerm en kyk na ʼn regstreekse uitsending van een of ander prediker op DStv. Hy was geklee in ʼn baie duur snyerspak met ʼn blink das en krokodilleerstewels, aan sy een vinger ʼn goue ring en in sy regterhand ʼn Bybel in duursame leer.

“God het die oplossing vir al mens se finansiële probleme!” roep hy en maak dit duidelik dat ʼn mens alleen sal maai wat jy saai. Elke nou en dan beweeg die kamera oor ʼn skare mense wat op gemaklike teaterstoele sit en “Amen!”, “Preach it brother!” en “Halleluja!” beaam terwyl hulle aantekeninge maak.

Onder op die TV-skerm flits daar ʼn nommer wat jy kan bel as jy geld wil “pledge” op die “blessings line”.

Die evangelis raak al vuriger. Hy hamer daarop dat mense nie moet wag nie, maar dadelik moet reageer. Om sy punt te staaf vertel hy van ʼn man wat ʼn vorige keer eers ná die tyd gekom het om sy geld te offer, maar dit was te laat, want die salwing wat gedurende die diens gevloei het, was reeds verby.

Hy vertel die mooiste goed oor die Bybel, die kragtige werking van die Heilige Gees en veral oor Jesus. Net toe jy sou dink die storie is ʼn bietjie vervelig (en besonder oneg), gebeur daar iets ongeloofliks.

Die evangelis begin passievol bid. Hy bid vir ontvanklike harte, ʼn groot oes en dat God deur Jesus sy teenwoordigheid daar tussen hulle bekend sal maak.

Skielik is sy oë groot – stokstyf van die skrik. Die kamera bly vir ʼn oomblik op hom, maar ʼn mens kan aan die skare hoor daar is iets agter in die kerk aan die gang. Dan draai die kamera weg van die glaspreekstoel op soek na die aksie. Totale chaos! Mense hardloop, ou tannies word flou, almal is wit van die vrees. Geen “hallelujas” en “amens” nie, net ʼn mal geraas van gille en goed wat breek. En toe word alles stil.

Van agter, tussen die mense deur, kom Jesus aangestap. Dié naby hom gee vinnig pad. Hy gooi die tafel met die offergawemandjies uit sy pad. Toe Hy voor in die kerk kom, kap Hy met een hou die glaspreekstoel in stukke. Hy doen die perfekte “round-kick” en tref ʼn pers blompot met ʼn massiewe blommerangskikking reg in die middel – blomme, blare, stukke glas, vuil water … whoop-whoop-bang!

Sweep in die hand stap hy reguit op die prediker af. Mense snak na hul asem. Iewers begin ʼn vrou saggies huil. Die evangelis gooi sy Bybel eenkant toe en probeer by ʼn sydeur agter die kansel uit vlug, maar dis gesluit. Verskrik hardloop hy tussen die mense deur en probeer in ʼn laaste poging soos ʼn bang kleuter agter een van die groter ouderlinge skuil. Een vir een begin die mense die kerk verlaat. Jesus bly alleen agter.

Hy lyk klein in die groot vertrek. Die ou voor die TV sien nou eers sy kaal voete, sy wilde oë. Jesus stap tot reg voor die kamera, druk sy neus teen die lens, kyk hom vir ʼn oomblik stip aan, en sê dan met ʼn kwaai stem: “Dit is tyd dat julle wakker word!”

Half outomaties verander die ou die kanaal. Daar’s ʼn advertensie.

Hy sug. Die spanning is onmiddellik minder. Hy het sekerlik iets gehoor, want sy oë het oopgegaan. Vir ʼn lang ruk het hy net daar op sy rug op die bed bly lê, nat gesweet, terwyl die besef tot hom begin deurdring dat dit net ʼn droom was. Wat ʼn verligting.

Van die dag dat ek hiérdie twee stories gehoor het, is dit ook my droom om wakker te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Burger ·

Dis wanneer godsdienstigheid koning raak. Laat my dink aan ons kerk tradisies . Een bazaar op die ander . Bak koek vir die Here , bie vir die Here , maak wors vir die Here . Verf weer die kerk vir die Here . Hou die dooie geldvretende infrastrutuur in stand vir die Here . Wat n nagmerrie .

Tradisies en godsdienstigheid n magtige wapen van die vyhand …

A ·

Ek stem saam Burger. Ek bid steeds vir die dag wanneer enige gebou vol mense gepak is omdat die Heilige Gees hulle gedryf het na ‘n behoefte om ‘n eenheid te wees. Ek bid dat alle predikante sal wakker word en begin om te preek dat God sonde haat, maar mense oneindig liefhet.

Harrie ·

Dit is so dat geld ‘n rol speel in alles.Ek raak egter bekommerd wanneer ek sien waar hierdie predikers woon,hoe hulle aantrek en wat hulle ry, dan wonder ek of die geld by die regte plekke uitkom en vir die regte doel aangewend word…

My inset ·

Ek het geen probleem wanneer iemand iets saai, hetsy geld of ‘n item solank so persoon bevestiging by Jesus ontvang het en dit nie onder dwang of aanvaarding doen nie. Ongelukkig die gemeente waaraan ek behoort het (klem word gelê op het behoort) was jy slegs aanvaar en het jy ‘n direkte ooplyn na die pastor of sy vroutjie gekry as jy meer as genoeg vir die kerkie gee. Ek troos my daaraan dat alles wat in die duisternis gebeur in die lig geopenbaar sal word. Ek het gaan oplees oor Kulte en ja pastor (my gewese pastoor) jy reik uit na die swaktse van swakstes maak hulle sterk en lei hulle op om as leiers in die kerk op te tree sodat jy op die einde van die dag hulle soos poppies aan ‘n tou kan beheer. Jammer maar my God het my nie ‘n gees van vrees gegee nie en daarom het ek jou vierkantig in die oë gekyk en my sê gesê. Jammer jy het dit so sleg gevat. So is ‘n pastoor wat my pa jare terug begrawe het geopenbaar in Louis Trichardt van sy onderduimse bedrywighede, nee wat ek luister maar eerder na ‘n goddienste radiostasie by my huis as wat ‘n klomp valse christene my weer seermaak. Jesus waarsku ons immers om ons harte te bewaar.

Helena ·

Ek vind artikels soos hierdie altyd besonder onsmaaklik. Jammer om so-iets in Maroela Media te lees.

Die kommentare maak my naar. Moet ek nou aanvaar dat al die heiliges maar eerder by hulle radio sit en kerk luister en dat al die sondaars in die kerk is? Snaaks, ek het juis altyd gereken dat die kerk bedoel is vir sondaars. Ek veronderstel die “Christelike radiostasie” word deur sondelose heiliges bedryf?…………..

Maria van Dieweeck ·

Stem saam. `Christelike` kulte is maklik om te verdoesel. Die Bybel se ook `groet die wat tuis ontmoet`.

NetEk ·

Ek stem 100% saam met Jesus, dit is tyd dat ons wakker word, dis tyd dat ons ons televisie stelle af skakel, ons skinder blaaie toe maak en begin op let op die Woord. Satan mislei diegene wat hulself nie met die wapenuitrusting van die Gees beskerm nie, en al hoe ons die wapenuitrusting kan bekom is om die Woord van God te bestudeer. Telkemale het die Here Jesus gewaarsku dat ons nie aansien moet najaag nie, ons kan niks doen om Hom en Sy geskenk van die ewige lewe te verdien nie, dit self het Hy reeds namens ons gedoen deur te sterf aan die kruis en op die derde dag op te staan. Ons laat toe dat satan ons kerke en binnehuise in dring omdat ons veel eerder ons self wil verlekker in die dinge van die lewe as om tyd saam met ons Skepper te spandeer.

Marius ·

Hierdie welvaart godsdiens het van Amerika af oorgewaai. Die probleem is Afrika en Suid -Afrika is vrot daarvan. Dis eintlik net ‘n verdoeselde piramide skema soos John Mc Arthur dit noem. Die meeste Christene in die wêreld leef in groot elende. Duisende word vervolg, en is wêrelde verwyder van die twak wat dié ouens kwytraak. Hierdie nonsens word verkondig terwyl ander gelowiges op die voorste linies in Moslem lande die goeie nuus verkondig, en vir baie ten koste van hulle lewens. Ware Christendom maak Jesus die einddoel van alles. Hierdie nonsens is eintlik om Jesus te hê sodat jy dit kan kry wat jou hart eintlik begeer, en dit is geld en besittings. Meeste van hierdie ouens sal die hemel vat al is Jesus nie daar nie. Kyk maar waaroor preek hulle as hulle oor die hemel praat. Stem saam; word wakker en begin bietjie logies dink as jy na dié swendelaars luister.

Henry ·

My vrou sê altyd dit is nie die dominie of pastoor wat die kerk maak nie, maar die gemeente. Maar waar kry ek ‘n kerk waar die Heilige Gees mense nog dring om kerk toe te gaan? Waar daar nie gepraat word van geld insameling nie. Waar God geëer word en nie die pastoor nie. Ek het gehoor van ‘n weeshuis waar die pastoor in beheer, besluit het hulle gaan nie meer geld insamelings projekte hou en mense vra vir donasies nie, en meer konsentreer op gebed en die weeskinders se opvoeding. Mettertyd het die weeshuis se jaarlikse begroting verdubbel. Dit kan net so gevaarlik vir jou geloof word as jy ‘n radio of tv Christen wil wees. Ek glo ‘n Christen moet gereeld gemeenskap hou saam met die heiliges, miskien moet ons ‘n nuwe kerk stig, waar gemeente lede hulle tiendes na die kerk toe bring, soos God vereis, en waar die predikant nooit oor geld praat nie en waar alles by die jaarlikse kermis, gratis uitgedeel word. Ek wens Jesus wil my kerk besoek.

Henry ·

Henry
Miskien moet jy ‘n nuwe gemeente met ‘n ander dominee soek.

E ·

Die gee van die 10de kom voor in die ou testament, ek dink in Maliagie. Die gee van 10de is nie van toepassing op vandag nie. Hoekom party kerke nog daarop hammer sê vir my hul lê klem op die verse wat hulle pas.
Die bybel sê ook as jy gee moet die een hand nie weet wat die ander doen nie, m.a.w. as iemand anders dit sien is jou seën daarmee heen. ń tiende is nie noodwendig net geld nie, dit is ook ń 10de tyd saam met jou Meester ń tiende om jou kinders aandag te gee, om vir ń persoon wat siek is te besoek, daar is so baie dinge wat ons met ń tiende van ons tyd kan doe. Die Heer sien als en Hy weet met watter ingesteldheid ons elke dag gee.
Vir my is dit belangrikker om in my geliefdes tyd en aandag te saai, as om voor mense in ń kerk raakgesien te word.
Die kerk bring jou nie in die hemel nie.

SNEL ·

Markus 12: 17 Betaal aan die keiser wat die keiser toekoms, en aan God wat God toekoms.n
Om ons tiende te betaal geld vandag nog.
Om nie jou tiende te betaal nie is so goed soos om te steel by die Here, want hoe anders kan mens dit opvat (Maleagi 3:8). As jy iets van iemand vat wat nie aan jou behoort nie, steel jy mos. Ek voel ook om jou tiende te betaal is om dankie te sê vir jou talente, werk, gesondheid om te kan werk en dis n manier om ook te help om God se Woord te versprei, ander te help. Ja, neem jou tiende na die plek van aanbidding, dit staan ook in die Bybel. Die Kerk moet sorg dat dit reg gebruik word.

Pieter ·

Gaan lees Mattheus 5 vers 17 tot 19 en dan sal julle sien wat Yeshua bedoel het. n Vraag aan almal wat gaan sê die wet bestaan nie- as jy glo in Yeshua en aan die wederkoms hoekom onderhou jy nie SY wette nie? Wanneer HY terugkom om te regeer volgens watter land (Israel, Griekeland, italie, Rome, Amerika, Engeland, SA ens) se wette gaan HY regeer? Yeshua gaan regeer volgens SY wette m.a.w. volgense die wette in die Torah ( die eerste 5 booeke in die Bybel). Gaan lees dit en pas dit toe want Yeshua gaan in terme van daardie wette regeer en Hy gee ons nou die geleentheid om sy wette te leer sodat ons dit saam met Hom kan toepas!!!

F ·

Die probleem is dat mense die kerk van die here soek, maar nie die Here van die kerk nie. Die kerk of enige gebou huisves nie die Here nie. Die Here van die kerk is in en om ons.

andre van eeden ·

Dit is ‘n visioen/droom direk van God.
Die hoer kerk het al ge-arriveer en het baie tentacles wat hy uitsteek en bybels ongeletterde mense opslurp. Die kerke is vrot van geldmaak en valse predikers, valse profete en wolwe in skaapklere is nou oral te vind op TV, radio, konsert sale, kansels, tydskrifte en selfs boeke wat in sogenaamde “Christen Boekwinkels” bekikbaar is.
Jesus het ons gewaarsku oor die laaste dae en die groot afval wat nou reeds al gearriveer het.
Net jammer hierdie mense plaas opregte wedergebore Christene in swak lig en veroorsaak dat baie hul rug op God draai.
Gelukkig weet ons dat goeie mense nie hemel toe gaan nie – wedergebore Christene gaan.
Ons weet ook dat Godsdien absoluut niks met Christenskap te doen het nie! Ek dank die Vader daarvoor.
Ons moet almal waak en seker maak maak ons Verlosser is werklik Jesus Christus.
Baie dink hulle ken Hom maar het geen idee wie Hy is nie.
Luister wat Jesus sê en doen dit. Nie wat kerk leiers voorskryf nie!

Renette ·

Ek wens almal wat so smag na God in hulle lewe en Kerk kon na die gemeente toe kom waarin ek is. Nooit word daar oor geld gepraat nie, ons hou wel ons basaar maar dit word meer as ñ samekoms vir gemeentelede gesien as ñ geld maak storie.

Marius ·

Ek wil nie klink soos een of ander doemprofeet of hoogheilige nie. God sal Sy kerk self onderhou. Hy is soewerein. Dis net so ironies dat die goeie wat Hy vir ons gegee het, ons grootste val ook kan wees. Waar ware gelowiges werk en leef kom welvaart en verandering, want dit gaan oor harde eerlike werk, integriteit en meelewing met ander se swaarkry. Maar dit gaan nooit oor die materiële gewin nie. Daarvoor is die behoefte na waarheid in die wêreld te groot. Daar is niks mee verkeerd om welvarend en Christen te wees nie. Dis net verkeerd as materiële gewin die lokmiddel word om mense by die kerk te kry. Dis boos en niks anders nie. Navorsing in Amerika het gewys dat dié tipe kerke geweldige toestroom van mense het, maar dat hulle nie lank hou op die pad nie. Dit het ook gewys dat mense wat uit dié kerke weggaan byna nooit weer kerk toe gaan nie. Dis amper of hulle ingeënt is teen kerk. As die welvaart nie kom nie dan stap hulle weg en gaan nooit weer kerk toe nie.

Frik Müller ·

Klaar met maroelamedia. Vir baie lank al is hierdie bladsy al deel van my stiltetyd in die oggend. Dit was wonderlik: `n Teksvers uit God se Woord, `n gedagte daarby en `n gebed. Maar vanmore gebeur hierdie: Niks uit God se Woord nie, afbrekende en veroordelende menslike woorde, mense wat hulleself blykbaar as die enigste ware volgelinge van Christus beskou. Gelukkig het ekGod se Woord wat wysheid verskaf sodat ons kan weet waaroor dit werklik gaan. Dus: MET HARTSEER NEEM EK AFSKEID.

Sune van Heerden ·

Dagsê Frik

Ons vra om verskoning dat die gedagte van die dag nie vanoggend gepubliseer het nie – ‘n tegniese fout het ingesluip en dit sal definitief môreoggend oudergewoonte weer gepubliseer word.

Die artikel waarna jy verwys is slegs ‘n rubriek deur Jaco Strydom wat ons gistermiddag gepubliseer het.

Bly gerus ingeskakel, die Stiltetyd met teksvers sal definitief môreoggend weer beskikbaar wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Burger ·

Ek was al betrokke by onderhoude vir n nuwe dominee. Ons is gelei deur n ander predikant. Die hoof fokus was wat hy kan doen vir ons . Kan hy goed preek , klink sy stem reg ?Gaan hy almal by hulle huise besoek ?

Nooit was hy gevra oor sy getuienis nie , sy pad van bekering nie . Dit was net die gemeente lede wat besorg was oor hul eie gemaksone . Vandag is dit n sukkelende gemeente wat net spring van die een bazaar na die ander . Ek kan nie dink dat God nog daar teenwoordig is nie.

Ons is blatant ongehoorsaam . Wanneer gaan dit verander, as die tradisionele kerke afgebreek word en mense die geleentheid kry om hulle te bekeer . Die Skepper wag daarvoor. Aanneming en voorstelling is n inlywing tot lidmaatskap van godsdienstigheid. Dit word vandag ingekleur om dit beter te laat lyk , maar dis net ander omslag. Destyds was dit vir die meeste jong mense seker die ergste ding om deur te gaan. Die boeke van die Bybel van voor tot agter opse en nog wat . Mooi aangetrek , knik jou kop voor in die kerk , raait ek het my kaartjie hemel toe en my drink lisensie . Alles verniet ….

Inez ·

Die Bybel praat van die groot hoer (kerk) wat die mense verlei in die laaste dae…
Daar is min dinge waarmee Jesus ons direk opdragte voor gegee het, en EEN daarvan was om na die wees en die weduwee te kyk. Meet jou kerk aan dit! As dit nie hul uitgangspunt is nie, is jy in die verkeerde kerk! Jesus het ook gesé: gaan en maak disipels van mense – nie gaan stig kerke en word ryk nie!
Ek lees die mense se aanmerkings oor jou tiende, en dit is reg om dit te gee, MAAR dit help nie om jou tiende te gee sodat die predikant in luuksheid kan leef nie! Jy gaan daaroor ook moet verantwoording gee!
Aan die herders wat so maak: gaan lees weer jou Bybel oor wat God oor wolwe in skaapsklere sê! God slaap nie, en dit wat julle by sy skape steel, sal wel van julle verhaal word!

Frans C ·

Alle predikers praat van ‘hemel’ en ‘hel’ maar laat dan na om te sê waar die plekke is.In Kol 1.16 lees ‘n mens dat alles deur Christus geskep is. Ons heelal het dus nie bestaan nie.Dit het ‘n begin en en einde.Die vraag is dan wat was voor dit?
Om dat Christus nie geskep is nie en altyd daar was,is dit duidelik dat Christus bestaan in ‘n oneindigheid en ons heelal in ‘n oneindigheid geskep is en bestaan en dus steeds groter
kan word en uitdy. Ons heelal kan dus nie oneindig wees nie maar beslaan ‘n ruimte in die oneindigheid.

Die hemel en hel is dus nie te vinde in ons heelal nie, maar is in werklikheid dimensies wat
bestaan buite ons heelal in ‘n oneindigheid. Tog bly God se teenwoordig en onderhou ons heelal. Ook versterk Hy deur die Trooster sy aangenome kinders. Die hemel is dus God se woonplek buite ons heelal in ‘n tydlose dimensie. Dit is dan ook duidelik waarom Jesus vir sy volgelinge gaan na ‘n plek waarna hul nie kan volg nie,want die mens van die toekoms mag ons heelal deurkruis met ongelooflike tegnologie en aandrywing, maar nooit kan vorder tot in die hemel of hel nie.

Marietjie Jansen van Rensburg ·

Dis skrikwekkend wat sy droom was, en nog meer skrikwekkend is dat ek so kerk ken, nogal in die Oos Rand. dis hartseer, het daai kerk 2 keer besoek, en elke keer laat dit my dink aan daai spesifieke gedeelte waar Jesus die tafels in die tempel omgegooi het. Even al sien ek die spesifieke prediker op tv sit ek dit af…….want hulle is juis dit spesifiek wat die droom was….dis scary

hestie ·

Ek dink sulke artiekels en waarskuwings is a mors van tyd. Skrif se dan mense word gelei wat in hul harte is en gaan waar hulle ore jik en net wil hoor wat hulle wil. So mense wat agter geld is gaan soontoe, mense wat agter Yeshua is VIND HOM. Net God se Gees kan mense oortuig.

Ek vind dis ‘n mors van tyd om ander kerke sleg te se, God is kragtig genoeg om Sy kerk te beskerm. Spandeer eerder jou tyd met jou verhouding in Yeshua en in Skrif, God KEN SY kinders en die wat soek sal Hom vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.