Lees Jeremia 23:30-40
Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so” (Jeremia 23:31)
Hoe bekend is daardie laaste vier woorde nie! Want wie het nie ’n kordate kennis of ’n vrome vriend wat by geleentheid sulke dinge kwytraak nie?
Ja-nee, die verkondigers van “die Here sê so” is springlewendig en spraaksaam hier tussen ons. En in dié Jesajagedeelte verneem ons dat húlle van ver af kom. Diegene wat met groot vrymoedigheid en soms selfs fanfare getuig dat die Here sus en so aan hulle – ja, juis aan húlle, in ’n vertroulike openbaring – gesê het.
Dit is geen verrassing nie dat die Here ernstig frons oor hierdie “getuienis” (vgl. Jer 23:26). Dat Hy Hom hier sterk uitspreek teen hulle wat alles uit hul duim gesuig het. Hoe dan anders? Dit is immers sy eer wat aangetas word, sy wil wat verdraai word en uiteindelik sy heiligheid wat in die gedrang kom.
Dit bly ’n boeiende vraag: Wat motiveer sulke mense, sulke kansvatters, om met soveel vrymoedigheid “die Here sê so” te verkondig, welwetend dat dit leuens is?
Ons weet nie. Hoe kan ons, immersoekendes na God se wil, diesulkes se hart ken? Dalk is daar iewers finansiële voordele ter sprake (vgl. 1 Tim 6:3-10). Miskien is mag, die moontlikheid om mense met vrees te manipuleer, ’n oorweging. Dink aan die Skrifgeleerdes en priesterhoofde se herhaalde reaksie op Jesus se optrede toe hulle gereken het hul troontjie is aan’t wankel.
Maar ons weet nie vir seker wat hulle dryf nie. Ons leer hier bloot dat ons fyn moet luister wanneer iemand, priester of profeet of koning, weer kom bors uitstoot en kraai: “Die Here sê so!”
O Here, ek soek reikhalsend na u woord vir my. Maak tog my ore dáárvoor oop!
amen !
As ek dit hoor vra ek maar net “waar staan dit?’