“Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.” (Johannes 17:4)
Ware oorgawe behels nie net die oorgawe van ons uiterlike lewe nie, maar van ons wil, en wanneer ons dit gedoen het, is die oorgawe volkome. Die grootste krisis wat ons ooit ervaar, is die oorgawe van ons wil. Tog forseer God ’n mens nooit om sy wil oor te gee nie, en Hy soebat ook nooit nie. Hy wag geduldig totdat daardie persoon gewillig aan Hom oorgee. En as daardie geveg een keer geveg is, is dit nooit weer nodig om dit te doen nie.
Oorgawe tot bevryding. “Kom na My … en Ek sal julle rus gee.” Dit is slegs nadat ons ervaar het wat verlossing werklik beteken, dat ons ons wil aan Jesus oorgee ter wille van rus. Ongeag wat dit is wat in ons ’n gevoel van onsekerheid veroorsaak, dit is in werklikheid ’n aanspraak op ons wil. “Kom na My” – dit is uit en uit ’n vrywillige handeling.
Oorgawe tot aanbidding. … “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën … ” (Matt. 16:24). Hier gaan dit om die oorgawe van myself aan Jesus, met sy rus in die diepste van my wese. Hy sê: “As jy my dissipel wil wees, moet jy die reg wat jy op jouself het aan My oorgee.” En as jy dit eers een keer gedoen het, sal die res van jou lewe niks anders wees as ’n weerspieëling van hierdie oorgawe nie en jy sal nooit weer bekommerd hoef te wees oor wat die toekoms vir jou mag inhou nie. Ongeag wat jou omstandighede ook al mag wees, Jesus is volkome algenoegsaam (vgl. 2 Kor. 12:9; Fil. 4:19).
Oorgawe tot die dood. “ … (E)n iemand anders sal jou vasmaak … ” (Joh. 21:18). Het jy al geleer wat dit beteken om vir die dood omgord te wees? Waak teen een of ander oorgawe wat jy aan God maak in ’n ekstatiese oomblik van jou lewe, want jy sal dit waarskynlik weer terugtrek. Ware oorgawe is ’n saak van een word met Hom in sy dood (vgl. Rom. 6:5), totdat niks meer vir jou van belang sal wees wat nie vir Jesus van belang is nie.
En dan, na oorgawe, wat dan? Jou hele lewe behoort die stempel te dra van jou gretigheid om ononderbroke gemeenskap en eenwording met God te beleef.