Gedagte vir die dag: Waters waar daar vrede is

oggend_strand_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 23

Die Here is my herder, Hy bring my by waters waar daar vrede is. (Psalm 23:1-2)

Palestina, waar Dawid sy pa se skape opgepas het, is ’n dorre half woestyn. Dit was dus noodsaaklik dat die herders daar moes sorg dat hulle skape genoeg water het om hulle dors te les. Indien ’n herder bereid was om baie vroeg op te staan, kon sy skape baie langer sonder water klaarkom deur die doudeurdrenkte gras soggens vroeg te eet.

Soggens is dan ook die beste tyd om met God te kommunikeer. “U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag,” skryf Dawid in Psalm 5:4. Baie bekende Christene erken dat hulle vroegoggend stiltetyd hou en hulle so voorberei en toerus vir die dagtaak wat voor lê. Martin Luther het getuig dat hy soggens ’n uur langer stil te tyd hou wanneer daar vir hom ’n baie besige dag voorlê.

As jy gewillig sal wees om soggens ’n bietjie vroeër op te staan en op God te wag, het jy die versekering dat Hy ook na jou stem sal luister en die hele dag by jou sal wees. “Ek het nog niks gevind wat vergelyk kan word met die oggendstiltetyd as ’n bron van seën nie. Dit is ’n tyd wanneer ’n mens God ontmoet voordat jy die wêreld ontmoet. Dit is ’n goeie ding om met Hom te praat voor ons met ander mense praat,” lui ’n aanhaling van William Dobbie.

Wil jy dit nie probeer nie?

Here, U weet hoe moeilik ek soggens opkom. Help my om elke oggend genoeg tyd vir U opsy te sit, sodat ek by u waters waar daar rus is, sal kan uitkom. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.