Gedagte vir die dag: Watter genot!

sing-vir-god

Argieffoto.

Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom. Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. (Psalm 147:1, 3)

Is dit vir jou lékker om vir die Here te sing? Ek het onlangs ’n kooruitvoering van ’n bekende jeugkoor bygewoon, en die geesdrif en vreugde waarmee die kinders gesing het, het my opnuut aangegryp. Ek sien te min daarvan in ons tradisionele kerksang. Ons het die mooiste liedereskat en ons kerkmusiek is van hoogstaande gehalte, maar ’n mens sien so min spontane vreugde wanneer ons lidmate sing. Miskien is dit omdat ons daaraan gewoond geraak het om kerksake werktuiglik af te handel – ons sing en luister onbetrokke.

Hoe is ’n mens betrokke by jou loflied? In Psalm 147 koppel die digter sy lofgedig aan bepaalde weldade van die Here. Hy sing tot lof van die Here wat gebrokenes van hart genees en hulpeloses weer laat opstaan. Dit klink na die genot van ’n gesonde hart wat hier ter sprake is, ’n hart wat deur ’n liefdevolle God en Vader genees is. Was jy miskien by geleentheid ’n hulpelose wat onder die las van omstandighede geswik het? Kan jy met vreugde onthou hoe die Here jou weer opgehelp het en jou voete op ’n rots geplaas het?

Is jou hart gesond? Kan jy daarvan getuig dat die Here jou stukkende hart met sy genesende liefde aangeraak het? Kan jy jou lewenskoers met sekerheid aanpak omdat die Here self vir jou by die hand geneem het? Dan behoort dit vir jou net een groot lekkerte te wees om ’n loflied tot eer van God te sing.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.