Weduwee getuig: ‘God voorsien in al my behoeftes’

Kirti se onwrikbare geloof en gebede dra haar deur moeilike omstandighede (Foto verskaf)

Geopende Deure het in 2020 die verhaal van Kirti*, ʼn jong vrou van Indië, se onwrikbare geloof met Maroela Media-lesers gedeel. Sy moes talle ontberings en uitdagings oorkom nadat haar man deur Maoïstiese ekstremiste vermoor is omdat hy gekies het om vir Jesus te leef. Geopende Deure se plaaslike vennote kon haar destyds help met haar hospitaalrekeninge, kos en ʼn veilige skuiling.

Nou deel Kirti haar lewe tydens die Covid-19-inperking met ons. Hoewel sy voedselrantsoene geweier word weens haar Christelike geloof, word sy deur God se genade gedra en laat die Here nie toe dat haar gesin tekortskiet nie.

Nadat sy tyd in ʼn skuilhuis deurgebring het om die trauma van haar man se brutale moord te verwerk, is sy en haar vier kinders nou terug in hulle tuisdorp. Sy het intussen ook haar skoonfamilie ingeneem, want daar is niemand anders om na hulle om te sien nie.

Ernstige finansiële probleme

Kirti plant gewasse en groente om ʼn bestaan te maak, maar kon gedurende die inperking geen produkte verkoop nie. (Foto verskaf)

Kirti vertel: “Ek plant gewasse en groente en verkoop dit dan by die mark om ʼn bestaan te maak. Aan die begin van die inperking is ek egter verbied om enigiets te verkoop. Terwyl ek tydelik in ʼn ander dorp was, het die mense wat my altyd vervolg hul diere op my landerye laat wei. Dié diere het meer as die helfte van my gewasse opgevreet. Dit het tot groot finansiële probleme gelei.

“Ek was baie hartseer toe ek met my terugkeer die skade ontdek wat op my landerye aangerig is. Ek het niks vir enigeen gesê nie, maar gebid dat die Here my vervolgers se lewens sal verander sodat hulle ook gered kan word.”

Die feit dat haar gewasse vernietig is, was egter nie Kirti se enigste probleem nie. Toe die inperking begin het, was sy ook een van die gelowiges in haar dorp wat noodleniging geweier is. “Talle gelowiges in die dorp en naburige gebiede is rantsoene geweier. Hoewel ek soms gefrustreerd voel omdat ek vir my skoonfamilie en vier kinders verantwoordelik is, dank ek God dat Hy ons met alles help.”

Noodsaaklike noodleniging

Danksy die ondersteuning en gebede van Geopende Deure se ondersteuners in Suid-Afrika en die res van die wêreld, kan Kirti en haar gesin met noodsaaklike noodleniging gehelp word. “Julle help ons met ʼn huis, klere, toerusting en rantsoene. Ons werk het weens Covid-19 tot stilstand gekom, maar die Here sorg dat ons familie geen tekortkominge het nie. God is deurentyd by my en Hy voldoen aan al my behoeftes.”

Behalwe vir haar gebede vir daaglikse brood, beantwoord God ook voortdurend Kirti se gebede vir haar familie en dorp. Haar skoonfamilie het haar aanvanklik vermy en vir haar man se dood geblameer omdat hulle gedink het hy is weens haar Christenskap vermoor, maar God het hul harte versag.

Krag van gebed

“My skoonpa het my in die verlede baie vervolg weens my geloof. Hy het nie in die Here geglo nie en erg gedrink, maar ek het aangehou om vir sy redding te bid. Ek dank God, want hy het onlangs in Christus begin glo.

“Ek het tydens die inperking baie tyd in gebed deurgebring en talle mense in my dorp het in hierdie tyd gelowiges geword. Baie dorpsmense kom na my huis sodat ek vir hul siektes kan bid en ervaar dan God se genesing. Dit het daartoe gelei dat sowat tien gesinne in die dorp sedert die begin van die inperking in Jesus begin glo het,” sê sy.

Kirti is ongeletterd, maar sy deel alles wat sy oor die Bybel hoor met ander mense. Hoewel sy steeds deur sommige dorpenaars vervolg word, is sy nie meer bang nie omdat sy weet dat die Here by haar is en haar geloofsfamilie in Christus vir haar bid.

Help gelowiges in Indië

Jou ondersteuning vandag kan help om nog gelowiges soos Kirti aan die lewe te hou te midde van geweld, vervolging en die pandemie. Klik hier om te sien hoe jy die Kerk in Indië kan help om te oorleef deur gebed, skenkings en om namens hulle te praat.

*Naam verander weens sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.