Gedagte vir die dag: Die weduwee van Sarfat

koring.jpg

Argieffoto

Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” (1 Kon 17:13-14)

Lees 1 Konings 17:10-24

Tydens ’n hongersnood in Israel beveel die Here die profeet Elia om na ’n weduwee in Sarfat te gaan sodat sy vir hom kan sorg. Toe Elia vir die weduwee water en brood vra, vertel sy hom dat sy nog net ’n hand vol meel en ’n bietjie olie oorhet waarvan sy vir haar en haar seun kos kan voorberei. Maar Elia verseker die weduwee dat haar meel en olie sal hou totdat die hongersnood verby is.

Alles gebeur net soos Elia voorspel het. Die meel en olie het nie opgeraak nie, maar intussen het die weduwee se seuntjie siek geword en gesterf. Toe die weduwee by Elia kla, maak Elia die seuntjie weer lewendig.

Die weduwee van Sarfat is gehoorsaam aan die Here se opdrag, al sou dit dalk kon beteken dat sy en haar seun nie kos sou hê om te eet nie. En dan ervaar sy wonderwerke in haar eie huis! Haar olie en meel raak nie op nie en haar seun word uit die dood opgewek. As jy bereid is om God te gehoorsaam; as jy bereid is om jou besittings met ander te deel, sal jy ook ontdek dat Hy in jou situasie wonders kan doen.

Hemelse Vader, dankie vir die versekering dat U vir my sal sorg as ek bereid is om mededeelsaam en gehoorsaam te wees. Leer my om U te vertrou om ook vir my wonders te doen. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.