Gedagte vir die dag:  Weer gestuur

 woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Konings 19:9-18

Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy  …” (1 Konings 19:15)

Ons lees die eerste keer oor Elia die Tisbiet uit Gilead toe hy koning Agab oor ’n komende droogte waarsku. Ons lees hoe die Here hom stuur om by die Kritspruit te gaan skuil. Daarvandaan word hy na die weduwee van Sarfat gestuur dat sy hom kan versorg (vgl. 1 Kon 17:1-9). Drie jaar later word hy weer na Agab toe gestuur (vgl. 1 Kon 18:1).

Ná die beroemde episode met die Baälprofete, en nadat die doodsbenoude profeet onder ’n besembos gaan lê en wens om dood te gaan, word hy weer gestuur – dié keer na die berg Horeb. En ná ’n ontmoeting met die Here word hy nog eens gestuur, Damaskuswoestyn toe, om ’n klomp salwings te gaan waarneem.

Roeping is klaarblyklik nie noodwendig ’n eenmalige gebeurtenis nie. Daar is diegene, soos Elia, wat herhaaldelik beleef het hoe die Here hulle stuur.

Hoe sulke roepings plaasvind, is sekerlik die Roepende se saak. Kom daar ’n stem uit die hemel? Is daar ’n deur wat oopgaan, of een wat toegeklap word? Wie weet? En wie wil tog waag om te sê watter manier die “regte een” is?

Uit Elia se roepingsverhale (ja, meervoud) blyk wel die volgende: Daar is maar Een wat roep, en wanneer Hy roep, stuur Hy ook. Hierdie roeping en sending is ten bate van ander mense. Maar, sou Elia tot sy groot troos uitvind, dit dien meermale ook tot jou eie heil. Kom nader, sê die roepende Een dan, dat Ek jou kan versorg. O, en jy moet maar jou ore spits. Fyn luister, want daardie stem kom soms soos ’n fluistering in die windstilte.

Here, ek wil U hoor bó die gedruis van my begeertes.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here U genade is wonderbaar