Gedagte vir die dag: Weerkaats God se heerlikheid

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Lees: 2 Korintiërs 3:11-18

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (2 Korintiërs 3:18)

Die maan straal nie self lig uit nie. As daar nie ’n son was nie, sou niemand hom eers kon sien nie. Dieselfde is waar van al die ander planete. Dit is net die sterre wat met hulle eie lig skyn. Tog is daar min dinge wat so mooi is soos die weerkaatsing van die volmaan in ’n damspieël of die sagte lig waarmee die maan die aarde verlig. Al wat die maan (en die res van die planete) doen, is om die lig van die son te weerkaats.

En dit, skryf Paulus aan die gemeente in Korinte, is presies wat hulle behoort te doen. Ons behoort ook God se heerlikheid op so ’n manier te weerkaats dat ons vir Hom ligte in die wêreld sal wees. Hierdie heerlikheid wat ons weerkaats, mag egter nie die selfde bly nie. Dit behoort toe te neem, totdat ons self sal verander deur al hoe meer soos Jesus te word. Luister na die 1933-vertaling se weergawe van ons kernvers: “Hierdie verandering is volledig God se werk; ons kan dit nie self vermag nie. Dit doen die Here wat die Heilige Gees is.”

Vra die Heilige Gees om dit vanjaar vir jou moontlik te maak om op ’n eskalerende manier God se heerlikheid in jou lewe te weerkaats sodat niemand daaraan sal kan twyfel dat jy aan Hom behoort nie.

Heilige Gees, maak my ’n lig vir U, en laat u weerkaatsing in my lewe toeneem, sodat almal kan sien dat ek meer en meer soos Jesus word. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.