Gedagte vir die dag: Wees bly oor beproewing

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: Jakobus 1:2-5

Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. (Jakobus 1:4-5)

Wanneer ons deur moeilike tye gaan, sê ons gou ons geloof word beproef. Beproewing verskil van vrou tot vrou. Dit is daardie swaarkrytye wanneer jy nie weet watter kant toe nie. Jy is teen die grond en die moeilikheid hou nie op nie. Siekte, dood, finansiële nood, probleme by die werk, ons kinders, ons man, ons ouers en krisistye in ons geloof.

Jakobus sê ons moet bly wees wanneer ons beproef word, maar dis nie so maklik nie. Beproewing kan ons swaarmoedig maak, in onsself en ons geloof laat twyfel. Wanneer jy egter na iemand luister wat deur ’n beproewing gegaan en anderkant uitgekom het, hoor jy altyd verhale van hoop en gebedsverhoring. Jy weet jy het jou beproewing deurstaan as jy vir ander mense daarvan kan vertel en hulle in hulle geloof kan versterk. In ons swaarkry groei ons geloof en word dit sterker.

As ’n mens terugkyk oor jou lewe, sien jy die goue draad van God se genade wat daarin verweef is. ’n Draad wat getuig van die Here wat jou hand vasgehou het! Die Here stuur nie die swaarkry nie, maar Hy gebruik dit om ons in ons geloof te laat groei. Neem jy in hierdie tyd jou toevlug tot Hom, of val jy van die wa af? Kla jy of soek jy raad en antwoorde by die Here?

Volharding gedurende swaarkry maak jou geestelik sterk. Bid tot God sodat Hy jou sal vul met wysheid. Jakobus sê hy sal vir jou gee sonder voorbehoud, jy moet net vra. God is getrou. Hy is die God wat gebede verhoor en wat hulp verleen. Hy verwyt jou nie as jy pleitend voor Hom kom staan nie. Hy ontvang jou met oop Vaderlike arms en luister na jou stem en jou pleitgebede.

Here, ek staan pleitend voor U. U ken my swaarkry. Ek is van U afhanklik vir uitkoms en raad. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.