Gedagte vir die dag: Wees bly saam met dié wat bly is

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

Wees bly saam met dié wat bly is. (Rom 12:15)

Weereens is dit maklik om bly te wees as daar vreugdevolle dinge met ons gebeur. Ons vier die huwelik van ons kinders met groot vreugde en ons straal by die geboorte van ons kleinkinders. Dis vir ons heerlik om te hoor dat ons man bevordering by die werk gekry het; dat ons kinders hulle eksamen met vlieënde vaandels geslaag het. Maar dis nogal moeiliker as een van jou kollegas die bevordering kry wat jy verwag het, of as iemand wat saam met jou werk se kind baie beter as joune in die eksamen presteer het. Dis moeilik om saam met daardie persone bly te wees en hulle uit jou hart uit geluk te wens.

Paulus se opdrag om bly te wees saam met dié wat bly is, druis soos al die ander opdragte in Romeine 12 in teen ons natuurlike, selfsugtige geaardheid. Die enigste manier hoe ons werklik gewillig sal wees om spontaan in ander mense se vreugde te deel is wanneer ons uit ons hart uit vir hulle begin omgee en hulle sal lief kry met dieselfde onselfsugtige liefde waarmee Jesus ons liefhet.

En dit, helaas, is onmoontlik. Maar die Heilige Gees wat in jou woon, kan jou help om dit reg te kry. Vra sommer nou dat Hy dit sal doen en begin dan dadelik om ander mense te verseker dat jy saam met hulle bly is wanneer daar iets opwindends met hulle gebeur.

Here, maak dit asseblief vir my moontlik om ander mense só lief te kry dat ek werklik bly sal wees saam met dié wat bly is. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ansie Geldenhuys ·

Ek geniet alle artikels in Maroela – waar was jy al die jare?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.