Gedagte vir die dag: Wees gereed!

Foto: Reint Dykema

Lees: Matteus 24:36-44

Bly waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie. (Matteus 24:42, 44)

Mense is altyd besig om gereed te maak. In November maak ons familie gereed vir ’n hoop verjaarsdae: my man, al drie ons kinders, my skoondogter en nog van ons kleinkinders ook, verjaar almal in November. Wanneer die verjaarsdae verby is, is dit tyd om gereed te maak vir vakansie en Kersfees.

Januarie is die tyd van die jaar wanneer almal gereedmaak vir die nuwe jaar wat voorlê. Dis ’n geskarrel van die ander wêreld om al die dinge waarvoor daar gereedgemaak moet word, afgehandel te kry.

Tog het vandag se kernteks my tot stilstand geruk. Daar is soveel dinge waarvoor ek die afgelope ruk gereedgemaak het, dat ek myself afvra presies hoe gereed ek is vir die wederkoms van Jesus. Hierdie vraag het ’n paar jaar gelede groot publisiteit gekry, omdat die Inkakalender by die einde van 2012 gestop het en mense gewonder het of dit die einde van die wêreld aangedui het – wat natuurlik toe nié gebeur het nie! “Ek kom onverwags,” waarsku Jesus self in Openbaring 16:15.

Een van die belangrikste dinge wat jy dus vanjaar kan doen, is om doodseker te maak dat jý gereed is vir die ewige lewe. Want hierdie datum is vir jou net so ver as jou sterfdag, en wanneer dit gaan wees, weet niemand van ons nie.

Here Jesus, ek wil graag gereed wees vir u wederkoms, en ek weet dat u koms onverwags gaan wees. Help my om vanjaar só te leef dat ek elke dag volkome gereed daarvoor sal wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Toffie ·

Ek kan nie wag nie! “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle (die ontslapenes in Christus) in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug, en so sal ons altyd by die Here wees.”

Toffie ·

O blye dag kom tog gou! “…ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin, en die dode sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word.”

Toffie ·

Loof Sy Heilige Naam PJ! “Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.” Ja! “In daardie nag sal daar twee op een bed wees, die een sal aangeneem en die ander verlaat word.” Kom tog gou ons Verlosser!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.