Gedagte vir die dag: Wees geseënd!

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose nie, en nie staan op die weg van die sondaars nie, en nie sit in die kring van die spotters nie. (Psalm 1:1, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Hierdie eerste woord, “gelukkig”, “geseënd” of “salig”, staan eintlik oor die hele Psalmbundel geskryf – al 150 psalms. Die Bybel in Afrikaans 1933/1953 se driedubbele wel-geluk-salig beskryf dit deeglik: geseënd, geseënd, geseënd! Die Psalmbundel se doel is om ons op ’n gelukkige en geseënde lewe te wys. So ’n lewe is altyd ’n lewe met God, ’n lewe in verhouding met Hom.

Psalm 1 sê ek mag nie toelaat dat mense of dinge my van God af wegtrek nie. Ons wandel of omgang met mense wat God nie ken nie, kan maak dat ons later gaan staan, of gemaklik word, by dié wat verkeerde dinge doen. Dan kan ons dalk selfs later gaan sit, met ander woorde tuis voel, in ’n groep wat hul rug op God gedraai het. Nee, dit mag nie gebeur nie! Gelowiges het ongelowige vriende en dit hoort ook so, maar hulle moet eerder óns geloof, hoop en liefde sien en na Hom toe aangetrek word. Dan sal hulle ook gelukkig wees.

Seënende Vader, ek neem vandag u seën vir my. Ek kies vandag om tot u eer te wandel. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.