Gedagte vir die dag: Wees heilig

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Ef 4:23-24)

Lees Efesiërs 4:17-24

Indien jy soos Jesus wil wees, is dit nodig om heilig te begin lewe, soos Hy heilig was, om nuut te leer dink en God se wil na te kom.

“Hoe sal ons begin weet wie U is, as ons nie self begin om naastenby te wees wat U self is nie. Ons sien nie eers en tree dan op nie; ons tree op en sien dan,” sê Thomas Merton.

’n Aktiewe verhouding met God is net moontlik as jy kans sien om aan sy gebooie gehoorsaam te wees; as jy genoeg tyd saam met God deurbring; as jy Hom al beter leer ken deur sy Woord te bestudeer en sy wil te doen.

Ons kan God se heiligheid eers verstaan as ons ons bes probeer om soos Jesus op te tree. “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het,” skryf Johannes (1 Joh. 2:6). Indien jy nie weet wat dit alles behels nie, lees ’n slag die vier Evangelies van voor tot agter deur sodat jy kan sien hoe Jesus geleef en opgetree het. En soos Jesus sy dissipels aangesê het nadat Hy vir hulle die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel het, wil Hy ook vir jou sê: “Gaan dan en maak jy nét so.” Want dit is net wanneer jy jou hele lewe daarop rig om soos Jesus op te tree dat jy werklik heilig sal kan leef.

Here Jesus, dit is my innige wens om elke dag meer soos U te word. Maak my gees en gedagtes nuut, help my om heilig te leef en u wil in alles te gehoorsaam. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.