U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. (Psalm 139:15)
Voel jy soms dom? Ek weet ek voel soms so wanneer ander oor onderwerpe praat waarvan ek niks weet nie of syfers aframmel wat te groot is vir my klein verstandjie. Dis maklik om geïntimideerd te voel in die geselskap van mense wat begaafd is op terreine waar jy nie so sterk is nie. En dis eintlik totaal onnodig, want elkeen van ons het ’n unieke vorm van intellek ontvang.
Daar is dié met uitsonderlike musikale of wiskundige intelligensie en ander met linguistiese intelligensie – wat ’n hele paar tale kan praat. Dan is daar dié met uitsonderlike balvaardighede of ander wat ruimtelike intelligensie het en daarom net nooit verdwaal nie. Só is daar natuurlik mense wat die vermoë het om uitstekend met mense oor die weg te kom. Die feit is: Ons word almal met een of meer soorte intelligensie gebore. Daarom hoef ons nooit minderwaardig teenoor ander te voel nie.
Koester, waardeer en ontwikkel jóú soort slim-wees eienskappe. Want dis wat jou ánders en spesiaal maak.
Vergewe my dat ek my eie menswees nie altyd na waarde skat nie, Meester.
Jou skrywe het niks met die Psalm uit te waai nie. Jy is nie verkeerd met die skrywe, maar die Psalm wat jy gekies het sê niks van intellegensie nie en jy prys die Here se naam nêrens in die stuk nie. Hoe sluit dit wat jy skryf aan by die Psalm?
Die psalm pas perfek by. God ken ons talente en Hy het dit vir ons gegee.