Gedagte vir die dag: Wees lief vir mense

hart_see_sand_strand_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak. (Jakobus 3:17-18)

Is dit jou hartsbegeerte om in ’n wonderlik innige verhouding met God te staan? Wil jy graag jou geloof vlerke gee en God meer tasbaar ervaar? Wees dan lief vir jou naaste, sê Jakobus in hierdie gedeelte, dit sal jou verhouding met God opnuut laat blom. Tree vredeliewend en inskiklik teenoor ander op en wees bereid om sinvolle kompromieë aan te gaan; wees bedagsaam, onpartydig, opreg en betoon medelye. Die gevolge hiervan is dat dit ons verhouding met God herstel. ’n Nuwe verhouding met God veronderstel ’n nuwe verhouding met jou naaste.

Natuurlik is dit maklik om vredeliewend, inskiklik en opreg te wees teenoor mense vir wie ons lief is, maar wat van dié van wie ons minder hou? Het jy geweet om in liefde teenoor ander op te tree gaan in ’n groot mate oor ’n besluit wat jy moet neem? Ons kies dan om vredeliewend en bedagsaam te wees teenoor mense wat ons wil beïndruk, soos ons werkgewer. Waarom dan nie kies om op dieselfde wyse op te tree teenoor dié wat ons nie hoef te beïndruk nie?

God help ons met hierdie besluit om in liefde teenoor mense op te tree. As ons Hom vra, sal Hy sy dwingende liefde in ons hart uitstort en ons help om mense te sien soos Hy hulle sien.

Jesus het die wet saamgevat as liefde tot God en jou naaste, en Paulus het gesê dat iemand wat sy medemens liefhet die hele wet van God uitvoer. Om jou naaste nie lief te hê nie is dus ’n direkte oortreding van die wet van God. Dit is daarom belangrik dat jy jou gesindheid teenoor mense ondersoek en sorg dat jy mense opbou en nie afbreek nie.

Wees gou om liefde te gee, gou om goed te doen. Liefde is die sterkste wapen wat God ons gegee het om die sonde mee te oorwin. Augustinus het gesê: “Dié wat met liefde gevul is, is vol van God self.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marianne colyn ·

wat as familielid saam met wie op dieselfde plaas woon,my oor man wat outisties is aanval en net sleg se.Persoonlik raak en nare goed uit woede se,wat staan my te doen!omdraai en loop??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.