Gedagte vir die dag: Wees liefde!

Gelukkig_vrou_natuur_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” (1 Johannes 4:8)

Ons is na God se beeld geskep. Na die beeld en as verteenwoordiger van liefde, is ons geskep. Nie om liefde te doen nie, maar om liefde te wéés. God ag liefde so hoog dat toe die wetgeleerdes aan Jesus vra wat die groot gebod is, Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Wanneer ons liefde is, is ons integriteit. Wanneer ons praat, is dit met wysheid. Wanneer ons leiding gee, is dit met deernis. Liefde kan niemand seermaak of te na kom nie. Liefde is opreg en eerlik en wil altyd die beste en dit wat goed is hê. Selfs wanneer liefde dissiplineer of teregwys, is dit sonder veroordeling. Liefde is nie beledigend nie. Liefde vergeld nie kwaad met kwaad nie. Liefde wil altyd die beste hê vir die ander persoon. Liefde beskerm en laat veilig voel.

Wanneer ons liefde is, sal ons ander vir Christus wen deur ons voorbeeld. Deur ons innerlike skoonheid. Deur ons blywende beskeidenheid. Deur ons kalmte van gees. Baie maal kan ons ons optrede regverdig. Om dit te regverdig, maak dit nie noodwendig reg nie. ’n Beter maatstaf om dit aan te meet is liefde. Is dit wat ek dink, liefde? Is dit wat ek op die punt is om te spreek of te tik, liefde? Is hoe ek die situasie hanteer, liefde? Liefde is nie ’n swakheid nie. Liefde is om ’n bietjie van jou krag aan ’n ander te gee. Liefde is nederig.

Kom ons kies om te wees wat God ons geskep het om te wees. Kom ons kies om liefde te wees!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.