Gedagte vir die dag: Wees ’n getuie!

hand-in-son-galleryhip-com

Foto: Galleryhip.com

Lees: Handelinge 1:1-8

Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (Handelinge 1:8)

Jesus vertel sy dissipels dat Hy hulle in die wêreld uitstuur om sy boodskap uit te dra. Eintlik het Jesus maar vir Hom ’n swak taakmag bymekaargemaak! Hulle slaap as Jesus hulle in Getsemane vra om saam met Hom te waak en te bid, hulle hardloop almal weg as die soldate Hom arresteer en Petrus wat hoog en laag gesweer het dat hy Hom nooit sou verlaat nie, verloën Jesus nie een nie, maar drie keer. Tog het Jesus hulle gebruik om die Goeie Nuus van sy koninkryk deur die hele destydse wêreld te versprei.

Dit gee ons moed as ons van ons eie getuienistaak wil terugdeins. Die einste klompie bang dissipels verander soos handomkeer wanneer die Heilige Gees oor hulle uitgestort word op die eerste Pinksterdag. Mense verkondig Jesus se boodskap in vreemde tale, en Petrus lewer so ’n kragtige Pinksterboodskap dat meer as 3 000 mense tot bekering kom.

Net die Heilige Gees kan van bang mense kragtige getuies maak. Hy wil dit vanjaar vir jou ook doen. Jy hoef dus nie langer bang te wees om met ander oor jou geloof te praat nie. Jy het reeds die krag van die Heilige Gees ontvang, Hy woon self in jou as jy aan God behoort. Al wat jy behoort te doen, is om vanjaar daardie krag aan te wend in jou getuienistaak.

Heilige Gees, U weet hoe ek sukkel om te getuig. Ek maak nou aanspraak op u wonderwerkende krag – maak my vanjaar ’n kragtige getuie vir U. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.