Gedagte vir die dag: Wees ’n voorbeeld van naasteliefde

hart_see_sand_strand_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Romeine 10:12

Inderdaad! Dit maak geen verskil of jy ’n Jood of ’n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here en Hy deel sy rykdomme uit aan almal wat Hom aanroep. (Romeine 10:12)

Ek het onlangs gelees van ’n Amerikaanse voetbalafrigter wat sy hele span afgedank het. Die rede: Sommige spanlede het mense op Facebook geboelie en ander het nie klas bygewoon nie en swak punte gekry. Om weer ’n plek in die span te kry, moes hierdie jong manne gemeenskapsdiens doen, onderwysers met respek behandel en om verskoning vra vir wat hulle gedoen het. Hoekom is die onskuldiges ook gestraf? Omdat hulle geweet het van die slegte gedrag, maar niks gedoen het nie.

Ons lees in Romeine dat ons mekaar soos familie moet oppas en met respek behandel. Te dikwels doen ons die teenoorgestelde by die werk of die kinders se skool. Mense weet dat iemand geboelie word, maar niemand sal vir hom of haar opkom nie. Ons wil nie betrokke raak nie. Deur stil te bly en weg te kyk, kies jy egter wel ’n kant. Stilbly laat ander dink jy stem saam.

As ons weet ons broer of suster in die geloof word deur ander mense afgetakel of beskinder, is dit mos die regte ding om vir hom of haar op te staan. Ons mag nie stilbly oor ongeregtigheid nie. Ons moet ’n stem wees vir die verontregte.

Ons moet ons kinders leer hulle mag nie boelie nie, en hulle moet ook ’n stem daarteen wees. Ons moet hulle leer wat naasteliefde is deur self ’n voorbeeld te wees.

Naasteliefde is nie net om kos uit te deel of lief te wees vir mense wat vir jou lief is nie. Naasteliefde vra dat jy die ekstra myl stap vir mense wat swaarkry, wat dalk nie so naby aan jou is nie. Dis om mense, ook vreemdelinge, openlik te beskerm.

Here, maak my ’n stem teen ongeregtigheid vir die stemloses. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.