Sê vir dié wat bang is: “Wees sterk en moenie bang wees nie.” (Jesaja 35:4a)
Sy sit voor my, haar rug gedraai na die ander mense in die koffiewinkel sodat hulle nie haar pyn kan sien nie. Trane loop onophoudelik, haar snikke saggies-onderdrukkend. My vriendin is stukkend. Seer. Kwaad. Teleurgesteld …
My hart pyn om haar so te sien, maar ek weet: Ek het nie antwoorde nie. Daar is nie meer raad nie. Uitkoms lyk na ’n onbereikbare droom.
Miskien het jy ook al langs iemand gestaan met ’n groot gat in haar hart wat jy verstaan en waarmee jy soveel simpatie het, maar waarvoor jy nie pleisters het nie. Die waarheid is: Ons hét nie altyd pleisters vir ons siele nie. Daar ís nie altyd oplossings nie.
Maar jý is daar. Jý is daar om te luister en om ’n ruimte te skep waarin sy veilig kan voel, waar sy maar kan sê wat sy dink omdat sy weet dat dit veilig by jou is. Jy gee haar jou tyd sodat sy vrylik haarself kan wees. Jy is daar om haar te laat voel dat jy haar menswees verstaan en haar belange altyd op die hart sal dra. Jy is dáár … waar sy jou nodig het: Bý haar. En dis soms al wat nodig is.
Jy hoef nie antwoorde vir seerkry-mense te gee nie. Jy kan maar net jouself gee. Dít is dalk op daardie stadium al wat nodig is. Die res? Dit sal die Gees doen.
Vader, help my om daar te wees … waar U my nodig het.