Gedagte vir die dag: Wees sterk en dapper

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan. (Josua 1:7-9)   

Dit was die Here se woorde aan Josua toe hy die leierskap by Moses oorgeneem het. Hy sou God se volk tot in die Beloofde Land lei. Dit was ’n intimiderende taak, veral omdat hulle die vorige keer toe hulle op daardie plek gestaan het nie op God se beloftes vertrou het nie. Gevolglik het God hulle 40 jaar laat wag terwyl daardie ongelowige geslag in die woestyn gesterf het. Op hierdie gespanne oomblik praat God en sê: “Wees sterk en dapper.” Dit verwoord in werklikheid die opdrag om op God te vertrou.

God se belofte om Josua te help slaag in die taak wat voor hom gelê het, het saamgehang met die opdrag dat Josua God se Woord moes ken, daaroor moes nadink en daaraan gehoorsaam moes wees. As Josua God met sy hele hart sou volg, sou hy suksesvol wees in alles wat hy aanpak. God se belofte aan die einde van hierdie verse is egter nie voorwaardelik nie: “Moenie bang of huiwerig wees nie, want Ek is by jou.” Selfs al sou Josua nie daarin slaag om altyd aan God se woorde gehoorsaam te wees nie, sou God steeds by hom wees.

As ons ons aan God se Woord verbind – as ons sy Woord ken en daarvolgens leef – sal ons suksesvol wees. Ons harte sal op God se wil ingestel wees en Hy sal ons help om sy wil te doen. Maar selfs wanneer ons Hom nie volg soos ons moet nie, is God steeds by ons. Laat hierdie verstommende belofte keer dat jy vandag bang raak en moed verloor.

Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag. – Spreuke 16:3

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.