Gedagte vir die dag: Wees sterk, God het jou lief!

man-with-open-arms-705x335.jpgHy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God lief het! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.” (Dan 10:19)

Ek het groot bewondering vir Daniël wat ondanks die hewigste teenstand sy geloof onverskrokke bely het. Dit is wel waar dat die Here hom telkens uit penaries gered het, maar nogtans… hy het dit tog nie voor die tyd geweet nie. En wat meer is, uit ervaring weet ons dat die meeste mense wat so hardnekkig hulle geloof bely nie op die nippertjie gered word nie. Wanneer ’n mens met slegte vooruitsigte gekonfronteer word, is jy bang. Dit is die natuurlike menslike reaksie. Selfs die moedige Daniël was by geleentheid bang. Toe het hy in ’n visioen ’n engel gesien wat hom moed ingepraat het: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” (10:19). Wat is die heel beste wapen teen vrees? Die antwoord: Liefde! God se liefde. Hierdie boodskap van bemoediging het Daniël sommer dadelik van sy vrese bevry.

Toe ek baie jare gelede ’n hartomleiding moes ondergaan, was ek maar goed benoud. ’n Mens weet mos nooit …. Toe ek die aand my goedjies langs die hospitaalbed uitpak, kry ek tussen my nagklere ’n boodskap van ’n “engel”: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Die “engel” was my vrou wat die teksvers vir my ingepak het. En dit het ’n onbeskryflike kalmte oor my gebring.

Miskien moet ons God net meer op sy woord neem, en die bemoediging en bystand van die engele wat Hy oor ons pad stuur, aanvaar.

Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

shaun ·

Dankie Here my God vir u wonderlike liefde en krag wat U my bied,sonder U is ek niks my Koning

G Eloff ·

Daniel was in die fissiese teenwoordigheid van n engel , hy het nie n visioen gesien nie .Enigiemand sal sekerlik neerval(,indien nie sterf nie) ,in die teenwoordigheid van n engel . Nietemin , jou”dagstukkies” het die gevolg dat ek dan kyk wat staan werklik in die Bybel (meeste van die tyd die teendeel ) .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.