Gedagte vir die dag: “Wees stil en weet Ek is God!”

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Wees stil en weet Ek is God! (Psalm 46:11)

Nelson Mandela skryf dat ’n sel – ’n plek waar ’n mens eintlik so eensaam en ongelukkig kan wees – die beste plek op aarde is om … stilte te vind. Ja, ’n mens kan gelukkig wees in omstandighede wat vêr van die ideaal is … sielsongelukkig wees op die beste plekke op aarde.

Jy sal weet waarvan ek praat as jy al ervaar het dat jy alles het wat jou hart kan begeer, in ’n mooi omgewing is en tog onvergenoegd of ongelukkig voel. Dit kan wees dat jy goeie rede het, soos dat mense jou omgekrap het, jy pyn of ongemak ervaar, of dat daar ’n stuk bekommernis op jou hart lê. Maar dit kan ook wees dat daar – vir geen rede nie – ’n donker gordyn voor die sonskyn van jou hart getrek is.

As jy so ’n goor-voel-hoofstuk in jou lewe beleef, is dit dalk juis die Lig wat jou roep om sommer net by Hom te gaan sit sodat jy weer sy sagte hart vir jou kan raaksien en sy liefde vir jou kan vóél. Mag jy in jou nié-lekker-wees-tye rus vind in die Een wat jou hele wese ken en jou sommer net … liefhet.

In jou net-by-God-wees sal jy kort voor lank ervaar dat iets in jou binneste gebeur. Dat iets van vreugde by jou kom skoene uitskop. Dat jy weer stilweg vir die lewe kan glimlag.

Trek die gordyne om my hart wawyd oop, liefdevolle God.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

Soms verloor ons die vermoe om met sagtheid na ander te kyk.
Moenie toelaat dat die wreedhede van die wereld ons verhoudingslewe negatief beinvloed nie.
Gal 5;22

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.