Gedagte vir die dag: “Wees stil en weet Ek is … ”

 Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

My hart pyn binne-in my. Die angs van die dood kom oor my. (Psalm 55:5)

“Nie eers my lyding op hierdie oomblik troos my nie. Wanneer die lig uit die hiernamaals helderder word op ons horison, sien ons niks as ons armsaligheid en troostelose mislukking nie. O Here, miskien moet ons heeltemal nakend voor U gaan staan sodat U, net U, vir ons ’n nuwe kleed kan aantrek,” skryf Marguerite T de Chardin.

Seerkry is een ding. Wanneer ’n mens die dood in die oë staar, jou dierbare verloor het of eenvoudig stukkend getrap is deur die lewe, dan sny wanhoop en pyn dwarsdeur jou wese en staar jy reddeloos, troosteloos na die toekoms. In diep stukkendwees is daar immers nie antwoorde, oplossings of troos nie. Maar daar is altyd Christus. Daar is altyd die Een wat die mees onmenslike lyding moes deurmaak. Wat jou ken, verstaan en jou met sy hele hart liefhet. Mag jy die waaroms en weemoed van jou hart skroomloos voor Hom uitpak en dit dan sommer net by Hom los. Hy genees … op sy tyd … en manier.

Wees stil en weet: Pyn het nie antwoorde nie. Ook nie altyd troos nie. Maar ook in jou stukkendwees is daar ’n hand wat jou vashou. Wat weer vir jou ’n nuwe kleed sal aantrek.

Christus – U wat pyn ken en verstaan – hou my vas, asseblief. Baie styf vas.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elna Pieterse ·

Baie dankie. Om in `n tyd van pyn en lyding te wéét Christus is daar om jou vas te hou, moet jy die lewenspad in tye van voorspoed en geluk ook, diep afhanklik, met Hom saamstap.

Susan Joubert ·

Baie dankie vir die boodskap met soveel troos en Liefde. Ek het my man die 27 Jylie 2015 aan die dood afgestaan. Hy was 49. Here ek vra ook asb hou my styf vas. Ek kan nie slaap nie. Ek mis my man so . My hart pyn hier diep binne my. Help! Here asb dit is seer bitter seer! Ek vra almal op Maroela Medea om te bid vir my en ook almal wat iemand aan die dood moes afstaan. Nou weet ek ook hoe dit voel. Wees ons genadig asb Liewe Heer. AMEN.

Aira ·

Baie sterkte en liefde vir jou Susan – mag die Here jou bystaan in hierdie moeilike tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.