Gedagte vir die dag: Wees stil en weet …

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgGod is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting. (Ps 46:2-3, 11-12)

Maak eers jou oë toe en sien in jou verbeelding storm en onweer, watermassas wat dreig om jou woonplek te oorstroom, aardbewings en dreigende oorloë –dit is die agter grond van hierdie psalm. Ja, waarskynlik klink dit vir jou darem net ’n bietjie te dramaties, maar onthou hier is ’n digter aan die woord en hy wil maar net vir ons skrikwekkende omstandighede voorstel. Dit gaan hier oor magte buite ons beheer. Soms voel ons ook asof ons uitgelewer is aan dinge buite ons beheer. Wat nou gemaak?

Draai na God. Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Hy is jou beskerming. Jy hoef nie bang te wees nie. Ai, as ons darem net wil leer om dit van harte te glo! Neerdrukkende omstandighede kan ons tog so neerslagtig en moedeloos maak. En ons verloor ons fokus op ons almagtige God. Kom, luister wat het God self vir jou te sê: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” (v 11). Bedaar! Moenie so paniekerig raak nie! Word net rustig en erken dat God in jou lewe teenwoordig is. Hy is verhewe bo alle magte wat dalk ’n invloed op jou lewe kan hê. Al wat jy moet doen, is om bewustelik aan Hom erkenning te gee as die almagtige God.

En dan kan jy rustig saam met die psalmdigter getuig: Die Here, die Almagtige, is by my, die God van Jakob is vir my ’n beskerming!

Word rustig. Die almagtige God is jou beskerming.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.