Gedagte vir die dag: Wees tevrede

kinders

Foto: Argief.

Lees: 1 Timoteus 6:6-10

Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. (1 Timoteus 6:6, 8, NLV)

Met Jesus se geboorte in ’n stal, moes Josef en Maria noodgedwonge met baie min tevrede wees. In plaas van ’n sagte wiegie in ’n mooi babakamer het Maria haar pasgebore baba in ’n vuil krip neergelê, sommer tussen ’n klomp diere. Daar was geen babakombersies waarin sy Hom kon toedraai nie, net doeke, en stekelrige strooi vir ’n matrassie.

Tog was God self in daardie stal teenwoordig, sy heerlikheid het daar geskyn. Later het Maria verwonderd na die herders se verhaal van ’n helder lig, ’n blye engelboodskap en ’n jubelende engelkoor geluister en al dié dinge in haar hart bewaar, in plaas daarvan dat sy ontevrede was oor al die dinge wat ontbreek het.

Tevredenheid, so skryf Paulus aan Timoteus, saam met ware godsdiens is ’n groot rykdom. As jy dus genoeg kos en klere het, is dit rede tot blydskap.

Vandag oor ’n paar dae is dit Kersfees. Jy het nog ’n paar dae oor waarin jy iemand wat minder as jy het se Kersfees besonders kan maak. Kyk of daar nie klere is wat jy nie meer dra nie en wanneer jy jou eie Kersinkope doen, pak ’n ekstra mandjie vir iemand wat dit nodig het. As jy jou presente toedraai, sorg vir ’n paar ekstra wat jy by ’n tehuis vir bejaardes of ’n kinderhuis kan gaan afgee. En onthou om hierdie Kersfees vir God spesiaal dankie te sê vir alles wat jy uit sy hand ontvang.

Here, dankie dat U vir my soveel gee – nie net wat ek nodig het nie, maar in oorvloed. Maak my nie net tevrede met wat ek het nie, maar bereid om u oorvloed met ander te deel. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chelsea ·

Wat n herinnering aan wat dit beteken om dankbaar te wees ! X

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.