Gedagte vir die dag: Weet wie jy is in Christus

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Vissersboot in Paternoster. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

” … Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ’n doek geneem en dit om Hom vasgemaak.” (Johannes 13:3-4, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Leiers se invloed is óf ten goede óf ten kwade. Hulle kan die wêreld beter nalaat as toe hulle aan bewind gekom het óf hulle kan onberekenbare lyding en ellende nalaat. Leiers is nie altyd toeganklik vir die gewone mense nie. Sommige van hulle verwag dat hulle op ’n spesiale manier behandel moet word. Hulle word dikwels op ’n troontjie geplaas en deur hul volgelinge verafgod. Ongelukkig gebeur dit ook in die kerk.

Maar Jesus is die volmaakte voorbeeld van wat dit beteken om ’n geestelike leier te wees. Hy was God van die heelal, maar Hy was ook ’n dienaar-leier. Hy het gekom om die wil van sy Vader te doen en Hom aan die mensdom bekend te stel. Hy het gesê as ons Hom gesien het, het ons die Vader gesien. Ons kan dus aanneem dat die Vader ook die hart van ’n dienaar het. In Johannes 13 demonstreer Jesus vir ons die hart van ’n dienaar.

Jesus het Homself geken. Sy selfagting het nie berus op wat die mense van Hom dink nie, maar op wat sy Vader in die hemel vir Hom gesê het. As jy erkenning by mense soek, is jy in die moeilikheid. Jy sal óf jou beginsels prysgee om hulle goedkeuring te verkry óf jy sal ontmoedig en verslae wees wanneer mense jou kritiseer en jou veroordeel omdat jy “radikaal” is. ’n Dienaar-leier moet deur Jesus Christus erken word. Jy moet God getrou dien, en sy waarheid met ander deel. Jesus het sy dissipels geleer dat jy slegs ’n dienaar-leier kan wees as jy weet wie jy in Hom is. Ons moet ons roeping vervul sonder vrees of begunstiging. God is die enigste een vir Wie ons tevrede moet stel.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.