Gedagte vir die dag: Weghardloop?

sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Lees Psalm 139: 1 – 6, 13 – 18

Here, U sien dwarsdeur my U ken my (Psalm 139:1)

Wat ‘n skrikwekkende gedagte!  Geen vrome masker flous Hom nie, geen geheime agenda nie.  Hy weet.  Hy het dit geweet reeds voordat die sogenaamde onskuldige idee hom by jou aangemeld het.

Hy weet alles, van die begin af.  Sit, staan , kom en gaan praat of stilbly – alles is aan Hom bekend.

Sal ons so ‘n God oorleef?  Moet ons nie ook maar spore maak nie?  Sóveel het al van Hom af weggehardloop….

Jy kan probeer, sê die psalmdigter.  Maar hoekom al die moeite?  Hy ken jou wegkruipplekke beter as wat jy dit self ken.  Hy sal jou daar inwag.  En dan?  Wat sê jy dan?  Wat doen jy?  Watter verskoning dis jy op?

Goed, miskien is wegvlug nie so ‘n goeie keuse nie.  Dalk is die feit dat Hy jou intiem ken, nie so ‘n slegte ding nie.  Dalk moet jy jou energie nie op jou verleenthede vermors nie en dit eerder gebruik om jou te verwonder.  Om, al is dit met ‘n skaam, skuldige gesig, saam met die digter te sê: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God…”  (v.17).

En dalk is jou vrese oor Hy jou so goed ken totaal onvanpas.  Wanneer Hy so na aan jou en jou woorde leef, wanneer Hy jou planne, jou gedagtes, drome en fantasieë ken – is Hy dan nie die eerste Een vir wie jy maar kan raad vra nie?  Staan Hy nie reg agter die deur van jou hart nie?

Vra Hom dan iets soos: Wat wil U hê moet ek doen?  Wat dink U, Here, U wat my mos van voor my geboorte af ken?  Pas hierdie droom by u drome vir my?

Here, verhinder my tog om my eie kop te volg.  Keer my voor!

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Die gelykenis van die verlore seun is ‘n pragtige deel van die Bybel wat mens se hart roer. Ons meonie bang wees om na GOD toe te kom as ons verkeerd gedoen het nie. Ons het ‘n barmhartige hemelse Vader wat ons met deernis en liefde ons in Sy Vaderarms wil vas druk wanneer ons berou toon oor ons sonde en Hom om vergiffenis vra

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.