Wen: ‘I Can Only Imagine’ in Pretoria, Kaapstad

i can only imagineI Can Only Imagine, die multi-platinum gospeltreffer deur die Christelike rockgroep MercyMe, roer al sedert 2001 harte wêreldwyd en nou het Jon en Andrew Erwin (Erwin Brothers), regisseurs van flieks soos Mom’s Night Out en Woodlawn, en die vervaardiger Kevin Downes kragte saamgesnoer om die besonderse storie agter dié enkelsnit lewe te gee op die silwerdoek.

Die liedjie is deur die voorsanger, Bart Millard, se lewe geïnspireer en is geskryf jare nadat hy sy eie gewelddadige kinderlewe moes verwerk. Die liedjie was ’n kitstreffer wat aanklank by ʼn wye gehoor gevind het. Dit is ook die enigste gospelliedjie wat nog ooit multi-platinumstatus bereik het.

“Ons was besig om ’n onafhanklike album op te neem en het ’n liedjie nodig gehad. Ek het letterlik deur my joernaal geblaai, op soek na ’n skoon bladsy, maar daar was letterlik oral ‘I Can Only Imagine’ geskryf,” het Millard vertel.

“Ek het dit as ’n teken gesien en die lirieke een aand op die bus sit en skryf. Dit het sowat vyf minute gevat, maar dit was al vir baie lank in my hart.”

Die fliek vertel die verhaal van ’n klein seuntjie in Texas wat emosioneel en fisiek deur sy pa (Dennis Quaid) mishandel en deur sy ma verlaat word. Die mishandeling begin nadat sy pa ’n breinbesering opdoen as gevolg van ’n ongeluk by die werk en beheer oor sy emosies verloor.

Hy word ’n “monster” wat nie sy woede en teleurstelling in die lewe kan beteuel nie. Deur God se genade kry Bart (John Michael Finley) en sy pa dit reg om hul verhouding te red en ervaar hy eerstehands hoe kragtig geloof en verandering kan wees.

Quaid, akteur in rolle in ‘The Right Stuff’, ‘Breaking Away’, ‘The Parent Trap’ en ‘Far from Heaven’, vertolk die rol van Arthur, Bart se pa, wie se drome verpletter is en wat sy seun teen soortgelyke teleurstellings wil beskerm, al beteken dit dat hy dan geen drome meer oor het nie.

Die fliek sluit ook vertolkings in deur die model en televisiester Madeline Carroll as Millard se vrou, Shannon, asook Golden Globe-wenner Cloris Leachman (A Brand New Life en Malcolm in the Middle) in die rol van Memaw.

‘I Can Only Imagine’ is ’n aangrypende verhaal oor die krag van vergifnis en ’n pragtige voorbeeld van hoe niemand ooit te ver van God se liefde – of die ewige tuiste in die hemel – is nie. “Ek is baie opgewonde daaroor om die prent vir mense te wys wat nie die storie ken nie,” sê Downes. “Ek glo dat dié treffende storie hoop gaan bring aan mense reg oor die wêreld.”

Die fliek begin op 11 Mei in fliekteaters landwyd draai. Kyk hier na die lokprent.

Wen: Vyf gelukkige Gautengse lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na die spesiale voorvertoning van die fliek in Ster-Kinekor Brooklyn Mall op 9 Mei. Vyf gelukkige Kaapse lesers staan ook elkeen die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die spesiale voorvertoning van dié fliek by Ster-Kinekor Tygervallei Mall ook op 9 Mei. Vul die vorm in en beantwoord die vraag. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit om 10:00 op Maandag 7 Mei. Die kompetisie is nou gesluit.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.