Gedagte vir die dag: Werk God stadig?

twee_persone_sit_duine_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het gesien dat God aan die mens ’n taak gegee het … God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. (Prediker 3:10-11)

… vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Petrus 3:8)

Daar is ’n Engelse gesegde wat lui: “God is slow but He is never late.” Die waarheid is egter dat God se tydsberekening altyd perfek is. ’n Vrou het eenkeer vir my vertel hoe sy vir haar seun gebid het om tot bekering te kom. Vir jare het God nie ingegryp nie. Die seun is later grens toe. Op ’n dag kry sy ’n oproep van haar seun. Hy het oorgeloop van vreugde en vertel dat hy daar op die grens ʼn ontmoeting met God gehad het. Sy was oorstelp van vreugde en kon God nie genoeg geprys het nie.

Enkele dae hierna moes sy die tragiese nuus aanhoor dat haar seun aan die grens gesneuwel het. Sy was ontroosbaar. Toe sy dae later sy skamele besittings in ’n kartonhouer ontvang, het sy daarin ’n joernaal gevind waarin hy die laaste paar dae van sy lewe beskryf het. Hierin het hy van sy bekering vertel en die skatte wat hy in God se Woord ontdek het. Sy sê dat sy met die lees van haar seun se joernaal besef het dat sy God moes vertrou, want sy tydsberekening is altyd perfek.

Die prediker sê vir alles is daar ’n bepaalde tyd, ’n vasgestelde tyd. Ons moet God se tyd aanvaar. Sy wil is ons beswil. Ons kyk immers net van “onder af” …

Soms wil ons byvoorbeeld ’n droom vinnig ryp druk, maar ons moet eerder nie met God se tydsbeplanning inmeng nie. Hy wil ons dalk eers voorberei om juis daardie droom selfs beter en volgens sy wil uit te leef. Dit is beter om God met die tyd te vertrou. Die Here se optrede in die verlede behoort vir ons ʼn waarborg te wees dat Hy sy beloftes ten opsigte van die toekoms ook waar sal laat word. As ons swaar kry, gaan tyd baie stadig verby, en word ons maklik ongeduldig. Ons moet egter onthou dat ons beskouing van tyd anders as God s’n is. Hy gee op sy tyd die regte uitkoms.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Connie ·

Dit is so baie waar. Hy gee op Sy tyd die regte uitkoms al lyk dit hoe donker en nag om ‘n mens. Hy is beheer.

Andries ·

Geseen is jul vir die wonderlik taak wat jul doen en voorspoed vir jul
Groete
Andries

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.