Gedagte vir die dag: Werk met ewigheidswaarde

Stiltetyd-5.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

‘Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.’ (Johannes 6:27)

Ons woon in ’n deel van die stad waar daar eens met groente en vrug­te geboer is op kleinhoewes met eendedamme en leivore. Vandat groot ontwikkelaars hier ingetrek het en die grond opkoop om meenthuis­komplekse te bou, is ons omgewing aan die verander. Te Koop-bordjies het oral opgeskiet. Net hier en daar word plothuise nog deur die oorspronklike eienaars bewoon. Huurders hou toesig sodat plakkers nie hul intrek neem nie. In die proses word jare se liefdeswerk aan mot en roes oorgelaat. Gras en onkruid groei wild, bome bly lê waar hulle val, heinings val om, verf dop af en damme droog op. Die oumense se handewerk vergaan.

Hoe moet dit voel as jy ná jare terugkom en die somershuisie wat jy gebou het se dak en mure het ingesak en van die bome wat jy geplant het, is daar net dooie stompe oor? Die watertenk is geroes, kakiebos het die groentetuin in­geneem. Spoedig sal die stootskrapers inkom en alles met die grond gelyk maak. Twintig eenderse meenthuisies sal opgerig word, die tuintjies afgebaken en volgens die jongste modegier met plaveiselklippies uitgelê. Oor 30 jaar is die buurt nie meer so gesog nie.

Salomo is reg: ‘Alles kom tot niks, dit is ’n gejaag na wind’ (lees Prediker 1:17).

Mense se handewerk bly nie staan nie. Kyk na die oorblyfsels van antieke paleise en tempels, die vervalle Colosseum in Rome, die wankelende Parthe­non in Athene, die verwoeste stad Pompeii. Waar is koning Salomo se paleis en wanneer sal die tempel in Jerusalem herbou word? Ons fokus te veel op die uiterlike, terwyl God die innerlike wil sien groei en ontwikkel.

Hemelvader, help my om te bou aan kennis en wysheid, nie aan huise en paleise nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theuns ·

Orde verval altyd in chaos. Maar ons GOD bly altyd dieselfde! Prys HOM!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.