Gedagte vir die dag: Werk met verwagting

 wingerd.jpgHy wat ploeg moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. (1 Korintiërs 9:10)

Elkeen wat namens die Here werk, hetsy vir die kerk of vir enige ander instansie wat geestelike en maatskaplike dienste lewer, behoort self ook versorg te word. Jesus stuur 72 van sy volgelinge vooruit om die koms van God se koninkryk aan te kondig en siekes gesond te maak. ‘Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis,’ sê Hy, ‘eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon’ (Luk 10:7).

Paulus pleit by die gemeente van Korinte om te voorsien in die lewenson­derhoud van hul Christenwerkers. Hy vra nie vir homself nie, maar in die al­gemeen. Gewone werkers leef van die inkomste wat elkeen met sy werk verdien, hoekom nie ook geestelike arbeiders nie? ‘Wie dien ooit op eie koste as soldaat?’ vra Paulus. ‘Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?’ (1 Kor 9:7).

In Moses se tyd het die Leviete wat die tempeldiens verrig het, hul deel uit die offers ontvang. Ons predikante en leraars wat sewe jaar op universiteit studeer het om ons met insig te lei en te bedien, behoort ’n goeie gemiddel­de salaris te kry. Dis by hoë uitsondering dat evangeliste en ander Christen­werkers ryk word uit geld wat hulle deur hul geestelike werk verdien. As dit die geval is, is daar gewoonlik iewers ’n groot skroef los. Gierigheid, woeker­wins, diefstal en korrupsie pas nie by God se dienaars nie.

Nie net hulle nie, maar meeste van ons, werk met die hoop om teen die einde van die maand betaal te word, maar ook om resultate op ons arbeid te sien. Mag die Here die werk wat jy vandag afhandel, ryklik seën.

Genadige Vader, dankie dat ons ook op professionele vlak in u koninkryk mag dien en daarvoor betaling mag ontvang.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.