Gedagte vir die dag: Werk versigtig met jou tyd

windLees: Job 9:14-21, 25-26

My lewe gaan vinniger verby as ’n naelloper. Dit vlieg verby, sonder dat ek geluk ervaar. Dit verdwyn soos ’n vinnige rietbootjie, soos ’n arend wat afswiep op sy prooi. (Job 9:25-26, NLV)

Alhoewel dit baie sleg gaan met die arme Job, ervaar hy steeds dat sy lewe, en dus die tyd, verbyvlieg. ’n Mens besef hierdie feit elke keer wanneer jy sien hoe groot jou kleinkinders word, hoe die wêreld om jou verander, hoe byna ongemerk jy ouer en swakker word. Vir dié mense wat hul lewe nog voor hulle het, is dit dus belangrik dat hulle hul tyd versigtig sal bestee en dit nie dalk op onbelangrike dinge sal verkwis nie. Hoe minder tyd ’n mens op aarde oor het, hoe deegliker besef jy die onskatbare waarde van tyd. Neem dus sommer vandag ’n wilsbesluit om die tyd tot jou beskikking uit te koop, want niemand weet presies hoeveel tyd jy oor het nie. Gebruik jou tyd elke dag optimaal, maak die heel beste daarvan. Almal van ons kry 24 uur per dag wat joune is, en wat jy kan gebruik presies net soos jy wil.

“Tyd is die onverklaarbare rou materiaal waaruit alles bestaan,” skryf Arnold Bennett in die LIG-tydskrif van Desember 2013. “Daarmee is alles moontlik, daarsonder niks. Jy moet hierdie 24 uur gebruik om gesondheid, plesier, geld, vergenoegdheid en respek te vervaardig. Jou geluk – die ontwykende prys waarna julle almal voortdurend gryp – hang daarvan af.” Tog, skryf Bennett, is tyd veel meer as sekondes, minute en ure. Die waarde van tyd lê dieper, elke dag bring sy eie geskenke. Maak dit oop!

Here, dankie vir tyd. Ek ervaar elke dag hoe my eie tyd verbyvlieg en ek is bevrees dat ek nie altyd die beste gebruik van mý tyd maak nie. Leer my om my tyd vanjaar ten beste te benut. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Muis ·

Dit is waar en ons neem dit as vanselfsprekend aan maar tyd staan vir niemand stil nie, maak die beste vir jouself en vir die wat jy lief het. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.