Gedagte vir die dag: Werk volgens jou gawe

1 Kon 14:7 –  Saloma het twaalf streekbestuurders in die hele Israel aangestel met die oog op die onderhoud van die koning en sy hof.

“Wat moet verander as die leierskap verander?” is ‘n vraag wat in elke sakeonderneming gevra word. As die leierskap swak en korrup was, sal baie dinge moet verander. As dit goed was, moet ons so min as moontlik daaraan torring. Dit is net so waar vir die politiek, die skool en die huis.

Salomo was wys genoeg om nie baie veranderings in sy regering aan te bring nie. Sadok en Abjatar was nog steeds die priesters, hoewel Sadok en nou tot hoëpriester bevorder is. Josafat het aangebly as hoof-uitvoerende beampte. Sisa was Dawid se administratiewe beampte, en sy seuns sit nou hulle pa se werk voort. Benaja het aangebly as hoof van die leër. Twee van die profeet Natan se seuns het leierskapsposisies gekry. Die twaalf streekbestuurders wat vir die paleis moes voorsien, het uit die verskillende streke gekom, sodat elke streek dieselfde voorregte kon hê. Twee van die bestuurders was skoonseuns van Salomo. In die kerk het die Here ook voorsiening gemaak vir elke deel van die kerk se werk. Dit doen hy deur verskillende gawes van die Gees aan elke gelowige te gee (1 Kor 12).

Ons hoef nie werk te doen waarvoor ons nie deur die Gees toegerus is nie. Stel net vas wat die gawe is wat jy gekry het, en dien die Here voluit daarmee. Die seën van Pinkster is nie ter wille van ons nie, maar ter wille van die wêreld. Hy rus ons toe om getuies te wees. Luister dus mooi waar jy in God se plan inpas, en doen jou taak dan voluit.

Gebed: “Here, dankie dat U ook vir my ‘n gawe gee; help my om dit ten volle in u diens te ontwikkel.”

 Bron: Uit die beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.