Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. (Johannes 9:3-4)
Die bekende lied “Blessed Assurance” is amper 150 jaar gelede geskryf en word vandag steeds in kerke gesing: “Blessed assurance Jesus is mine! O what a foretaste of glory divine! Heir of salvation, purchase of God, born of His spirit, washed in His blood.”
Fanny Crosby, wat die lirieke geskryf het, het net ná haar geboorte blind geword. Sy het in groot geloof meer as 9 000 liedere in haar leeftyd geskryf. Sy het haar roem gebruik om ’n kampvegter vir die blindes en armes te word. Fanny het baie vreugde deur haar musiek gebring. Duisende mense het God geprys en is bemoedig deur haar gesange. ’n Ander bekende lied van haar is “To God be the Glory”. Fanny het haar blindheid aanvaar en gesê: “Wanneer ek in die hemel kom, sal die eerste gesig wat ek sien my Verlosser wees.”
Mag ons, soos Fanny Crosby, aan God al die eer gee en vertrou dat ons beperkings ons nie daarvan sal weerhou om die werk wat Hy vir ons gegee het, te doen nie.
Here God, U het aan my die blye versekering gegee dat ek aan U behoort. Ek weet dat U my beperkings kan gebruik om groter werk in my lewe te doen. Ek wil hê u heerlikheid moet in my lewe weerspieël word. Amen.