Gedagte vir die dag: Werklike omgee  

bid_hande_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Dawid  het vir  Abigajil gesê: “Geloof  sy  die Here  die God van  Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem.” (1 Samuel 25:32, 33)  

Soms verloor selfs iemand wat naby aan die Here leef perspektief. Dan is dit nodig dat ’n vriend hom net liggies aanpraat en help om op koers te bly. Ander kere is dit nodig om die persoon ernstig te vermaan en op ’n oordeelsfout of doelbewuste misstap te wys.

Sulke persone word God se stem in iemand se oor.

Behalwe die profete Samuel en Natan, het die Here op verskillende tye in Dawid se lewe persone gestuur wat hom kon ondersteun en raadgee. Nadat Nabal, ’n vooraanstaande boer, Dawid se boodskappers sleggesê en met leë hande weggestuur het toe hy om hulp gevra het, wou Dawid hulle summier almal doodmaak. Nabal se vrou, Abigajil, het hom egter oortuig dat dit verkeerd sou wees.

Dikwels – wanneer iemand ons berispe – voel ons skaam en verneder. Ons is dadelik op die verdediging. Dan beskuldig ons iemand anders. Alhoewel ons weet dat ons gefouteer het, wil ons dit nie erken nie.

Dawid se reaksie was egter: Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het … en my verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem. Deurdat Dawid sy fout erken het, het hy mense se goedgesindheid én respek gewen.

Here, help my om te besef dat dit juis ’n teken van volwassenheid is om my foute te erken. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

Daar was eendag ‘n man wat gesê dat dit goed sou wees as mense net ‘n slag gaaf teenoor almal sou wees. Vir sy moeite het hulle hom aan ‘n kruis loop vasspyker.
Terwyl die man aan’t sterwe was, kyk hy hulle so uit en sê: “Dis OK, julle weet nie wat julle aanvang nie, maar ek vergewe julle.”

Wie is jy en ek om altyd almal te wil vergeld vir iets kleins soos om voor jou in te ry; jou vrou wat te veel sout in die kos gegooi het?

Ek is deur dieper water as dit, maar sy sal altyd die vrou wees wat ek oneindig lief het. Waar sy ookal mag wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.