Wanneer ek opkyk na die naghemel en ek sien die werke van u vingers, die maan en sterre wat U in hulle plekke geplaas het, wat is die mens dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee? (Psalm 8:4-5)
Die God wat die winde oor die aarde laat beweeg, weet van elke asemteug wat julle neem. Die Skepper wat elke ster in die heelal benoem het, weet van elke haar op julle kop. Die ewige Een wat buite ruimte en tyd staan, weet presies waar Hy julle in die geskiedenis geplaas het. Julle is die hele tyd in die gedagtes van die God wie se gedagtes meer is as die sandkorrels. (Psalm 139:18) Hy weet waarheen julle gaan, wat julle doen en wat julle dink en sê. Geen detail van julle lewe is vir Hom ’n geheim nie.
Hy hou julle so fyn dop omdat Hy julle liefhet. Hy het julle gemaak. Hy het julle vir mekaar voorberei. Hy het planne vir julle lewe, vir nou en vir die ewigheid.
Voel julle vandag klein en onbelangrik? Voel julle onsigbaar, asof julle nie saak maak nie? Hou moed – Hy het julle “lief met ’n liefde wat nooit ophou nie”. (Jeremia 31:3) Julle is teen ’n prys gekoop. Hy sien julle raak en Hy ken julle. Julle dra die beeld van God in julle. Julle is tempels van die Heilige Gees. Julle is Jesus se vriende en kinders van God. Julle is sy kosbare besittings en Hy sal julle nooit laat gaan nie.
Here, ons verstaan nie altyd die omvang van u liefde nie. Dankie dat U ons elke oomblik liefhet. Amen.
Dankie Hemelse Vader vir U liefde,U het ons lief met suiwer liefde.Vanoggend maak U my weer bewus van U groter liefde as die van “n mens,Haleluja Amen, laat U Naam geprys word…Jesus van Golgota!!