Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word. (Jakobus 3:13)
Kennis oes hoogmoed, maar wysheid oes nederigheid.
Wysheid laat jou verder as jouself kyk. Dit skep ’n leerbare hart binne-in jou. ’n Leerbare lewe. ’n Leerbare lewe is een wat al die seëninge van dít wat God kan doen, kan ervaar. Die leerbare lewe is ’n lewe wat leer om vorentoe te gaan wanneer God so sê, en te stop wanneer God so sê. Jy is nie meer so besorgd oor hoe die uiterlike lyk nie; nie meer belas met die behoefte om jouself aan ander te bewys nie. Die wyse, nederige, leerbare lewe ken die waarde van ’n lewe wat deur God gerig word.
Die lewe wat deur God gerig word, is die enigste lewe wat ewigheidswaarde het. Dit is die lewe wat blywend is. Die lewe wat die moeite werd is om te leef. Die nuutgemaakte lewe.