Gedagte vir die dag: Wie mag voor die Here verskyn?

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Here, wie mag dit waag om in u teenwoordigheid te kom? Wie mag woon op u heilige berg? (Psalm 15:1)

Lees Psalm 15

Dawid vra in Psalm 15 ‘n goeie vraag. Hy wonder wie in die tent voor die Here mag verskyn. Hy vra wie die reg het om daar te wees. Met ander woorde, hy dink na oor die reinheid van mense wat onderweg is na Sionsberg.

Dawid beantwoord die vraag dan self in die volgende vers. Hy sê dat ons onberispelik moet lewe. Jy moet so lewe dat ander nie ‘n vinger na jou kan wys nie. Ons moet doen wat reg is en met integriteit lewe. Daar mag nie vraagtekens hang oor jou lewenstyl of dit wat jy doen nie.

Dawid sê jy moet eerlik lewe. Leuens mag nie deel van jou bestaan wees nie. Jy moet ook nie kwaadpraat nie. Ons kan somtyds ‘n ding op so ‘n manier sê dat ons indirek kwaadpraat van mense. Moet dit nie doen nie. Stop dit vandag. Wees ook versigtig om mense te beledig. Jy moet alle mense met respek behandel.

Dawid sê ook ons moet mense eer wat God dien. Hy vra dat ons ons woord sal hou. Doen wat jy gesê het jy sal. Dit is ook integriteit. Mense moet op jou kan staatmaak. Dawid vra dat ons nie geld op rente sal uitleen tot ons eie voordeel nie. Laastens sê hy dat ons nie onskuldiges moet indoen nie.

Die laaste vers gee aan ons ‘n belofte. As jy hierdie voorskrifte nakom, sal jy nie struikel voor die Here nie. As jy hierin geoefen raak, sal jy sien dat jy nie maklik ingee en val voor sonde nie. Hoe meer jy oefen om reg te leef, hoe nader sal jy aan die Here leef. Jou getrouheid aan God en sy Woord sal jou sterk maak in jou lewe van elke dag.

Here, ek wil graag hierdie voorskrifte vir my lewe volg. Maak my getrou aan U. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.