Gedagte vir die dag:  Wie mag?

Israel_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 15

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? (Psalm 15:1)

Dit is ’n geldige vraag dié, nie waar nie? Ook vir ons hierdie Saterdag op die vooraand van Sondag, kerkdag. Ons neem wel die afstand tussen ons en die oorspronklike vraagsteller in ag – die paar duisend jaar, byvoorbeeld; die feit dat hierdie vrae voor Christus se koms gevra en beantwoord word; die besef dat wat die skrywer hier met “woonplek” en “heilige berg” bedoel, nie heeltemal deur ons in ons leefwêreld begryp word nie.

Maar hierdie digter help ons wel om twee keer te dink oor dié God vir wie ons durf “Vader” noem. Vir wie ons waag om aan   te spreek en van wie ons gunste en gawes vra. Met wie ons soms redeneer en selfs baklei. Die digter se vraag is een vir alle tye: Hoe naby mag ek aan U kom, Here?

Dan word die antwoorde (voorwaardes? uitsluitingsklousules?) afgerits – en dit slaan ons soos hamers voor die bors: onberispelikheid, om te doen wat reg is, om die waarheid te praat, nie kwaad te praat nie, nie ’n medemens leed aan te doen nie, niemand te beledig nie, goddeloses te verag, altyd woord te hou ongeag die koste, nie woekerwins te maak nie, nie omkoopbaar te wees nie, die onskuldige se kant te kies.

Allawêreld.

Al wat ons – ék – hierop kan sê, is: Dan moet ek liefs bly waar ek is, hier eenkant. Of weer my plek by die kring van die spotters gaan inneem. Want ek voldoen nie aan een, nie eens aan één, van daardie lys vereistes nie.

Daar is vir ons maar ’n enkele moontlikheid – net Een. Hy wat die Goddelike woning verlaat het. Hy wat van die Here se berg afgekom het om ons daarheen te neem.

Here Jesus, U is die ingang tot u Vader se huis. Net in u Naam kom ek daar  tuis.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephanie ·

Dankie HERE JESUS dat U die volmaakte, ewige Offerlam kom word het vir ons – dankie dat U liggaam gebreek is, die voorhangsel was wat geskeur het van bó na onder sodat ons vrye en vrymodige toegang kan hê tot ons VADER. Dankie dat U kosbare, sondelose bloed op die altaar uitgestort is vir volkome betaling van ons sondeskuld, die klagskrif teen ons, skoongewas het en dat U die offer van U bloed in die Hemelse Tabernakel getoon het. Kom, HERE JESUS, ons sien uit na u koms!

Yvonne ·

Genadige Vader ,Seun en Heilige Gees, met n dankbare hart bring ek U toe al die lof en die eer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.