Gedagte vir die dag: Wie was die spotters?

mense_gelykenis2-vertel_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die leierpriesters en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus die draak gesteek en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is dan kwansuis die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig. (Markus 15:31, 32)

Dis moeilik om meer as 2 000 jaar later vir jou die stemming wat daar by die kruis geheers het voor te stel. In die Bybel kry ons wel enkele aangrypende grepe wat tog iets van daardie dag se stukkie hel op aarde vir ons voorstel. Die Man aan die kruis, aan die ergste pyn denkbaar blootgestel, sy dissipels (wie was daar behalwe Johannes?), sy moeder en die ander vroue, soldate wat hulle werk smalend en spottend verrig, twee ander kruiselinge. Dan die Jode, Jesus se eie mense, die mense vir wie Hy so liefgehad het. En ergste nog: die godsdienstige leiers, die mense wat so hard daaraan gewerk het om Hom aan die kruis te kry.

Dit maak ʼn mens bang. Godsdienstige leiers wat God se Seun laat doodmaak? Kan dit gebeur dat mense wat so naby die wet van God geleef het, met die God van die wet uit pas uit kan raak? En word Jesus nie dalk vandag nog oor die wêreld heen weer gekruisig wanneer kerkleiers die wet van liefde minag nie?

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.