Gedagte vir die dag: Wil jy jou skoene ruil?

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5)

’n Arm jong seun met stukkende tekkies sien ’n mooi aangetrekte jong man op ’n bankie in die parkie sit. Die arm seun begeer die jong man se klere en skoene wat hy dra. Hy gaan sit onder ’n boom en skree aanhoudend hy wil soos daardie jong man wees.

Dit gebeur toe dat hy vir ’n oomblik die jong man se lewe oorneem, en die jong man syne. Die jong seun in die jong man se liggaam kan nie verstaan hoekom hy skielik begeer om so gelukkig soos die seun te wees en rond te hardloop nie totdat daar ’n verpleegster met ’n rolstoel by die bankie stop en vir hom sê sy is jammer sy het so lank geneem.

Die jong man wat so mooi aangetrek was, was al die tyd verlam. Die arm seun wat die jong man se lewe begeer het, was nou slegter af, want hy was nou verlam.

Hoe maklik begeer ons nie ander se lewens nie, sonder dat ons weet wat werklik agter daardie ou glimlaggie aangaan. Kan jy jouself vandag as ’n gelukkige mens beskryf? Is jy tevrede met jou lewe? Daar kom baie dinge oor ’n mens se lewenspad wat jou ontevrede kan maak. Dinge gebeur nie altyd soos ons dit beplan nie.

Hoe gaan ek tevrede wees met my eie skoene? Die eerste stap is om net om jou te kyk en op te let hoeveel mense baie slegter af is as jy. Leer om jouself nie met ander mense te vergelyk nie, want ander mense en hulle omstandighede is nie die maatstaf nie. Wat is die maatstaf dan? God se Woord leer ons dat die Here die enigste navolgenswaardige voorbeeld is.

Baie dankie, Here, dat ek tot alles in staat is deur U wat my die krag gee. Laat my gees asseblief tevrede wees met u genade. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.