Gedagte vir die dag: Windpomp

 windpompe_stiltetyd_Deon-Kotze.jp

Foto: Doen Kotze

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. (Romeine 8:11)

Die wind waai waar hy wil.

Saggies streel die wind oor propellers wat hulle probeer staal teen sy groot krag.
Kraakgeluide kerm en kreun oor die Karoomiddag.
Die wind draai – die kreun swyg – want die wind is stil.

Alles word deur iets gedryf:

  • Jagtersinstink – dryf die leeu oor die savannavlaktes as hy die springbok jag.
  • Lokomotiewe – dryf die trein se swaar staalwiele as hulle oor die spoor sny.
  • Swaartekrag – dryf die nimmereindigende gedruis van branders wat breek.

Wat dryf die mens? Wat dryf jou?

Daar is baie drywers in die lewe. Sommige mense word gedryf deur die verleidelikheid van finansiële welvaart, ander deur ’n loopbaan met doelwitte, prestasies en die gevoel van sukses. Daar is ook emosies wat ons kan dryf soos verantwoordelikheidsin, aanvaarding, vrees en sekuriteit. Elke mens het ’n dryf veer wat jou lewe op ’n manier beïnvloed.

Vandag kies ek om ’n windpomp te wees:

  • Ek wil Geesgedrewe wees.
  • Ek wil staan in die asemrowende krag van die Een wat lewe in my blaas.
  • Ek wil vars water laat uitborrel as my God se Gees oor my windpomp se vingers haas.

Here, ek kies om vandag deur U gedryf te word. Wees die dryf in my. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.