Gedagte vir die dag: Wis en seker

Stiltetyd woestyn.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 93

Die Here is Koning, Hy beklee Hom met majesteit. Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag. Die wêreld staan vas, dit wankel nie, en vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar. (Psalm 93:1-2)

Soms vind jy ’n psalm in die Bybel wat sonder vrae is, sonder wroeging. Sonder klagtes en aanklagte, sonder lesse wat geleer word, sonder onderrig wat aangebied word, sonder groot woorde en sonder trooswoorde. En sonder daardie dringende soeke na God wat soveel van die Bybelse psalms kenmerk.

Psalm 93 is so ’n psalm. Hier word bloot gesê, uit die staanspoor: “Die Here is Koning” (v. 1). Tot met die laaste woorde: “tot in lengte van dae” (v. 5). Daar is geen kwessie nie; net sekerheid, vastigheid. Só ’n psalm moet liefs nie ontleed word nie en bloot gesing word.

En as dit dalk gebid word, dan hardop en met ’n forse stem.

Hoe spesiaal is sulke liedere, sulke gebede nie! Wat ’n voorreg om aan so iets te kan meedoen, of selfs bloot aan te hoor. Die gelowige se lewe word tog nie net deur vraagtekens en ellipse gepunktueer nie! Dit word goddank nie bloot deur emoji’s met fronse en woede en trane bevolk nie; daar is ook die dae vol uitroeptekens en breë glimlagte, dié boordevol baldadigheid en helderheid.

En, nee, “ja, maar …” is nie ons motto nie en twyfel is niks om jou op te roem nie. Wanneer iemand jou oor God en jou geloof uitvra, is “ek weet nie” soms bloot ’n skuilplek vir lui denke, en “ek sal daaroor dink en jou kom sê” die afskeidsgroet van iemand wat straks nie wíl dink nie en dalk nooit sal kom sê nie.

Soms, nee, dikwels, kan gelowiges gerus maar opstaan en ver- klaar: “Wis en seker – die Here is Koning, tot in lengte van dae!”

Hier staan ek, Here – U het my staangemaak. Ek kan nie anders nie – U het my tot hier gebring.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here nie my wil nie maar U Wil…dankie vir genade elke dag is dit vars…Amen