Gedagte vir die dag: Woede-meter

vriendinne_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie vriende maak met ’n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is. Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang. (Spreuke 22:24-25)

Het woede vandag ’n houvas op julle huis? Dit is onvermydelik dat bitterheid en woede ’n invloed op elke gesinslid sal hê. ’n Ouer wat uitbarstings het en uitermate swaar strawwe oplê, sal ’n kind verbitterd en moedeloos maak. ’n Huweliksmaat wat liggeraak is, sal die liefde smoor. Sarkasme is aansteeklik. Woedende beledigings vernietig respek en liefde. ’n Opvlieënde humeur knak vertroue. Mure word om die hart opgerig om dit teen die volgende ontploffing te beskerm.

Hoe word julle huishouding vandag deur die gevolge van woede geraak? Christus kan julle hiervan bevry! Deur te vergewe soos wat julle vergewe is, sal bitterheid en wrewel verdwyn. Deur die krag van die Heilige Gees kan julle liefde, sagmoedigheid en selfbeheersing aanleer. Hy maak julle nuut, bevry julle van die mag van die duisternis en gee vir julle alles wat julle nodig het om oorwinnaars te wees.

Bid vandag vir bevryding as woede besig is om julle gesin te vernietig. Vertrou op Hom om julle met liefde en vrede te vul terwyl julle op Hom vertrou. Loof Hom vir die genesing wat Hy sal bring as julle alles vir Hom gee.

Here, vergewe ons vir die woedende woorde en dade waarmee ons mekaar seermaak. Genees ons wonde en leer vir ons u pad van vrede. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.