Gedagte vir die dag: ’n Wolkie so groot soos ’n man se hand

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!” (1 Konings 18:41).

Na drie jaar van droogte kom die woord van die Here tot Elia: “Ek wil dit weer in die land laat reën.”

Elia weet, God is die EK IS. Hy verander nie. Nadat God ten aanskoue van die hele volk en al die profete van Baäl Elia se gebed met vuur vanuit die hemel beantwoord, sê Elia vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!”

God belowe in sy Woord dat Hy nooit die roeping en gawes wat Hy aan ons gee sal terugneem nie. Tog kom daar tye in ons lewe wanneer ons deur ’n droë seisoen gaan. Soos die verhaal van ’n jong boer in die suide van Namibië wat moedeloos die ou, deurwinterde boer uitvra oor die reënseisoen in hierdie deel van die wêreld. Waarop die ou man die jong man antwoord: “Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek dink amper dit het hierdie jaar ook op ’n Dinsdag geval.” Net so voel dit by tye ook vir ons na ’n onbegonne taak. Veral wanneer alles om ons droog lyk en voel en al wat ons sien daardie wolkie so groot soos ’n man se hand is. Die werk van mens se hande. Dit wat vir ons as mense moontlik is.

Dit is waarom ons ’n doelbewuste besluit moet neem om te laat gaan van daardie voellyn. Hoe ons voel, wanneer ons na ons vermoëns en ons omstandighede kyk. Ons moet leer om in elke seisoen vas te gryp aan ons weetlyn. God se Woord. Dit wat God sê Hy weet. Die toekoms wat Hy vir ons beplan. Die hoop en verwagting wat Hy aan ons gee. Dit wat goed is en nie wat sleg is nie.

Geloof kom deur God se Woord te hoor. Geloof is proaktief. Dit is om seker te wees van God se beloftes, om aksie te neem daarop en nie meegesleur te raak deur ons gevoelens nie.

Elia het vasgegryp aan God se Woord. Hy het proaktief daarop reageer. Nog voordat Elia se slaaf daardie wolkie gesien het, het Elia al die gedruis van groot reën gehoor! Toe Elia se slaaf kom met die nuus: “Ek sien ’ʼn klein wolkie so groot soos ’ʼn man se hand wat uit die see opkom,” antwoord Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!”

Hoe onmeetlik is God se gedagtes aangaande ons! Dit wat God vir ons beplan! Ongeag die stemme in of rondom jou vandag, hoor die vaandel van die Woord van God oor jou.

Jy is geliefd, geseënd en geroep!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here vergewe my ongeloof….help my om deur U oe te sien..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.