Gedagte vir die dag: Die wonder van verhoudings

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees: 1 Tessalonisense 3:1-13

Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. (1 Tessalonisense 3:12)

Vir Paulus was verhoudings baie belangrik. Hy skryf dan ook dikwels dat Christene broederliefde teenoor mekaar moet betoon, hulle moet mekaar se laste dra en moet mekaar moed inpraat en versterk. Ons verhoudings met ander maak van ons die mense wat ons is. Want sonder verhoudings sal ons halwe mense wees. Juis omdat verhoudings so belangrik is, behoort ons meer moeite te doen met ons verhoudings; nie net met die mense wat na aan ons is nie, maar ook met die mense wat ons nie ken nie, want God vra van ons om ons naaste lief te hê.

Kersfees is die ideale tyd om verhoudings te versterk. En dit is mos presies wat ons in Desember wanneer gesinne en familie vir Kersvierings bymekaarkom, doen. Ons versterk weer ons verhoudings, ons maak tyd vir mekaar. Tyd om te kuier, om te gesels, om saam te eet, om weer ’n slag saam kerk toe te gaan en sommer om saam te wees sonder die gewone gejaagdheid wat ons lewens die res van die jaar kenmerk.

Maak ’n slag weer tyd vir jou geliefdes, leer hulle drome en gedagtes opnuut ken, gesels oor alles en almal – ook oor die manier waarop hulle oor God en sy Woord dink. En onthou altyd dat jou verhoudings ook ander mense buite jou gesin en familie moet insluit.

Hemelse Vader, dankie vir mense wat ek liefhet, mense met wie ek in ’n verhouding staan. Ek wil meer aandag en tyd aan my verhoudings bestee, Here, ook met die mense wat ek nog nie ken nie. Help my daarmee. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.